Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ons gaan dié ding maak werk, sê boer

Van die Hemel-en-Aarde-vallei in die Wes-Kaap, oor die Vrystaatse vlaktes tot in Mpumalanga het boere en hul werkers self plan gemaak om grondhervorming te maak werk, skryf Liezel de Lange.

Rita Andreas besit ’n deel van ’n plaas danksy die Bosman-familie se omvattende bemagtigingsprojek. Foto: Wikus de Wet

Vyf geslagte nadat Adam Apolis op Lelienfontein as plaaswerker ingeval het, besit een van sy verre-verre nasate, Rita Andreas, ’n deel van dié plaas.

Ook pryk hy in die nuwe naam – Bosman Adama – nadat die Bosman-familie met ’n innoverende bemagtigingsprojek begin het op die grond naby Wellington wat hul voorsate in 1798 die eerste keer betrek het.

“Ons families het saamgegroei op die plaas,” vertel Andreas, wat eens ’n plaaswerker was, ’n vakbond vir plaaswerkers op die been gebring het en deesdae in die burgemeesterskomitee van die Drakenstein-munisipaliteit dien.

Die Bosmans was lankal reeds betrokke by projekte soos sportklubs om hul werkers se lewens te verryk, maar in 2008 het dit oorgeskakel na ’n hoër rat, vertel Andreas.

Altesame 260 plaaswerkers het aandeelhouding van R100 000 elk in ’n skema gekry en daarmee ook gedeeltelike eienaarskap van die plase.

Die opbrengste van dié skema en uitbreidings om nog plase te koop en sakebedrywighede te groei, het hul lewens ingrypend verander.

“Ons het twee geboue gekoop, waarvan die een nou ’n ouetehuis vir afgetrede plaaswerkers is.”

Ook is 122 huise vir plaaswerkers gebou op hul ondernemings wat nou al tien plase beslaan. Daar is ’n kleuterskool met 103 kinders en nege onderwysers, en ’n nuwe kliniek bied mediese dienste.

Bosman Adama, eens Lelienfontein, is onder die grootste produsente van wingerdstok in die land en die Bosmans het in 2007 ook weer soos hul voorgeslagte begin wyn maak. Die 260 jaar oue wynkelder op Bosman Adama is gerestoureer en die wyne word hier vir die plaaslike en uitvoermark geproduseer.

Die handelsnaam pryk deesdae ook op ’n kelder in die Hemel-en-Aarde-vallei naby Hermanus.

Meer as ’n duisend kilometer verder boer dr. Colin Forbes saam met sy werkers in Mpumalanga tussen Ermelo en die Swazilandse grens.

Hy het in 2011 altesame 600 hektaar oftewel 10% van sy plaas aan sy werkers gegee. Daarna het Forbes ook gehelp met die beskikbaarstelling van sy plaasgereedskap, mentorskap en om borg te staan vir lenings.

“Ek staan borg vir lenings, want daar is geen ander manier vir die gemeenskap om geld te kan leen nie.”

Johan Maseko, een van dié werkers, se dogters werk deesdae by Standard Bank en sy seun is ’n wiskundeonderwyser. Maseko en die ander vennote het elkeen ’n verantwoordelikheid wat hul vaardighede en voorliefdes die beste pas. Amos Soko het ’n slag met diere en bestuur almal se beeste. Thulane Madonsela is ’n natuurlike ingenieur wat die swaar masjinerie aan die gang hou.

In die skoolgebou op die plaas, wat weens veranderings in onderwyswetgewing nie langer ’n plaasskool kon wees nie, word geletterdheidsprogramme vir volwassenes aangebied.

Forbes, Madonsela, Maseko en Soko help deesdae ook oorkant die pad van hul plaas waar ’n gemeenskap grond gekry het, maar geen ander ondersteuning nie.

“Ons plant nou soja en mielies danksy die hulp van mnr. Forbes-hulle,” sê Patrick Madonsela, ’n leier van die Matatiele-gemeenskap van 19 gesinne oorkant die pad.

“Hy het pa gestaan vir ons lenings toe niemand vir ons geld wou gee nie.”

Naby Smithfield in die Vrystaat het Eddie Prinsloo, ’n pryswenner-merinoboer op die plaas Heuningkrans, enorme geleenthede vir sy werkers help skep.

Die titelaktes van die buurplaas Donkerhoek, wat die regering by hom gekoop het, word eersdaags aan nege plaaswerkers, sewe mans en twee vroue, oorgedra.

Die Prinsloos en die werkers sal die plaas ingevolge ’n samewerkingsooreenkoms bestuur. Heuningkrans het ’n gerekende stoet waarby Prinsloo en van sy werkers al dekades lank betrokke is en waarvandaan Donkerhoek se merino’s kom.

Benewens dié wat boer, word van die werkers se gesinne ook van nuwe geleenthede voorsien. Die plan is om ’n gastehuis en bakkery op Donkerhoek te vestig, terwyl van die vroue reeds brood aan die tuisnywerheid op die dorp verskaf.

Prinsloo voel baie sterk dat die mense van die omgewing bemagtig moet word, diegene wat geslagte al op bepaalde plase werk. Hy het ook al inligtingsdae aangebied waar ander boere kom aanklop het om uit te vind hoe hulle soortgelyke bemagtigingsprojekte op die been kan bring. “Ons gaan dié ding (grondhervorming) maak werk. Ons moet met die regering saam sit om dit reg te kry,” sê Prinsloo, een van die tientalle boere en begunstigdes wat op Landbouweekblad se grondberaad in Bela-Bela hul suksesverhale kom deel het.

Meer oor:  Boere  |  Plase  |  Werkers  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.