Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ons hou moed, glo monument sal kan herstel’

Die Voortrekkermonument is onder groot finansiële druk weens die nasionale inperking, maar planne word gemaak sodat dié baken in Pretoria kop bo water kan hou.

“Ons verloor steeds nie moed nie,” het Cecilia Kruger, besturende direkteur van die monument, Sondag gesê.

Volgens haar beloop die tekort vir die jaar al R4 miljoen.

“Ja, ons nood is baie, baie hoog.”

Sy sê sy wil glo dat die monument se finansiële toestand sal verbeter en dat dit sal kan herstel.

“Van Oktober af gaan mense weer wil uitkom en tyd buite deurbring. En ons dink daar gaan meer belangstelling wees wanneer mense weer reis.”

Kruger sê daar is egter ’n paar maniere waarop die Voortrekkermonument steeds ’n inkomste genereer.

Die binnekant van die Voortrekkermonument soos gesien as deel van die virtuele toer. ’n “besoeker’’ kan op elke kolletjie klik om meer inligting te kry en video’s te kyk. Daar is ook ’n opsie om na die monument se senotaafkamer te gaan. Foto: Skermgreep

Een is om die monument virtueel te verkoop.

“Ons het die monument opgedeel in ’n sekere aantal stene, die hoekfigure, die vrouebeeld, sekere panele en so meer. Ons gaan die elemente te koop aanbied met pryse daarby.”

Mense wat ’n deel van die monument koop, sal ’n sertifikaat ontvang en dit sal opgeteken word in die monument se argief.

“Daar is byvoorbeeld 66 000 granietstene in die struktuur. As ons elkeen teen R100 verkoop, sou dit ’n gawe inkomste vir ons wees.”

Meer inligting oor die projek sal in die volgende paar dae bekend gemaak word.

Die monument-terrein sal weer van Maandag oop wees sodat mense daar kan stap of fietsry.

Vroeër is ’n inisiatief bekend gemaak om virtuele toere van die monument aan te bied. Die toegangskaartjie is ’n donasie van die besoeker se keuse.

“Ons het in totaal sowat R400 000 op dié manier ingesamel met mense wat enigiets tussen R100 en R100 000 geskenk het,” sê Kruger.

Van die monument se personeel is ook op verlof geplaas in ’n poging om koste te sny.

Volgens Kruger gaan die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) ook binnekort die monument se vooraansig as ’n grootskerm gebruik vir ’n aanlynkonsert met Steve Hofmeyr en Jak de Priester. Die konsert dien as nóg ’n inkomste vir die Voortrekkermonument.

Sy sê dat dit sowat drie jaar sal neem om te herstel tot die vlak waar die monument was voor Covid-19-inperkings die wêreld getref het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.