Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ons sal praat, maar betaal nou al, sê taxibedryf

Die taxibedryf is meer as bereid om te formaliseer, maar die regering moet reeds voor dié proses hulpverlening aan taxi-operateurs uitbetaal, sê Alpheus Mlalazi, sekretaris-generaal van die Nasionale Taxi-Alliansie (NTA).

Hy het Dinsdag gepraat op ’n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer.

Een van die voorlopige vereistes om vir die regering se hulpverleningsfonds van R1,1 miljard vir die taxibedryf te kwalifiseer, is dat taxi-ondernemings moet registreer om belasting te betaal. Volgens Mlalazi moet sulke vereistes egter nie nou reeds geld nie.

“Die minister (Fikile Mbalula) het onderneem dat ’n taxi-indaba op vlak 1 van die inperking sal plaasvind om oor formalisering te praat. Ons is meer as bereid om verder te formaliseer, maar die geld moet voor dit uitbetaal word,” sê Mlalazi.

Die minister (Fikile Mbalula) het onderneem dat ’n taxi-indaba op vlak 1 van die inperking sal plaasvind om oor formalisering te praat. Ons is meer as bereid om verder te formaliseer, maar die geld moet voor dit uitbetaal word.

Volgens hom was vorige vervoerministers nooit bereid om die kwessie van formalisering verder te voer nie, en het Covid-19 vir die eerste keer die geleentheid geskep waar die taxibedryf deeglik oor die kwessie met die minister kan praat.

“Ons is nie anargiste nie. Ons wil sakelisensies hê. Dit was destyds die apartheidsregering wat die taxibedryf gedereguleer het. Dit het baie pyn veroorsaak,” sê Mlalazi.

Die sitting is byeengeroep nadat die taxivereniging Santaco verlede week sy lede aangemoedig het om die regulasies van die regering te verontagsaam deur hul taxi’s heeltemal vol passasiers te laai. Santaco en Mbalula het intussen die vredespyp gerook, hangende die uitkoms van konsultasies van die Covid-19-bevelsraad oor Santaco se eise.

Santaco, sowel as die NTA, is ontevrede met die beperkings op die laaikapasiteit van taxi’s, oor reise oor provinsiale grense wat nie hervat kan word nie, en oor die geld in die hulpverleningsfonds wat glo te min is. Mbalula het voorheen gesê die tesourie het nie meer geld om vir die bedryf te gee nie.

Volgens Mlalazi sukkel taxi-operateurs om ’n wins te maak met die huidige regulasies dat taxi’s 70% van hul kapasiteit mag vervoer. Hy sê talle taxi-operateurs vrees dat die banke op hul voertuie kan beslag lê, veral noudat die sogenaamde betaalvakansies einde Junie tot ’n einde gekom het.

“Wat sal ons op die tafel vir ons kinders kan sit? Die situasie is nie volhoubaar nie. Ons is meer as bereid om passasiers teen 70%-kapasiteit te vervoer, maar dan moet die regering die geld wat ons verloor, aan ons betaal,” sê Mlalazi.

Meer oor:  Fikile Mbalula  |  Taxibedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.