Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ons soek antwoorde’

Regstelling:

In 'n vorige weergawe van hierdie berig is daar verkeerdelik geskryf Goodwood het teen Stand United gespeel, plek van teen Strand.


Twee weke nadat haar rugbymal seun weens ’n besering op die rugbyveld dood is, kan Shirley Barnes nie tot ruste kom nie, want sy en die familie soek na antwoorde.

Kyle Barnes se ma, Shirley, sy suster, Danielle Petersen, en sy broer, Byron, het steeds geen antwoorde nadat hy sowat twee weke gelede ná ’n rugbywedstryd tussen Goodwood- en Strand-rugbyklub in die hospitaal oorlede is nie. Foto: Edrea du Toit

Die familie se vrae oor Kyle Barnes (31) sluit in: Waarom is haar seun deur ’n spanmaat van die veld gedra nadat hy ’n beroerte weens ’n geskeurde slagaar gehad het, eerder as op ’n draagbaar?

Kyle het op Saterdag 15 September vir die Goodwood-rugbyklub uitgedraf as vleuel in ’n wegwedstryd in die Westelike Provinsie se Superliga C teen Strand.

’n Videogreep van die wedstryd wys dat Kyle deur ’n teenstander geduik is terwyl hy in ’n bukkende posisie was toe hy die bal opgepik het. Hy het die bal laat val en sy kop op die grond vasgeklem.

Hy het sy oë oopgemaak en geantwoord: ‘Ek is lief vir jou ook, mammie.’ Dit was sy laaste woorde aan my.

Ná ’n rukkie staan hy egter op en die skeidsregter laat die wedstryd voortgaan met ’n skrum.

Kyle stap dan verward rond. Volgens sy ma het hy aan ’n spanmaat gevra: “Waar is ons?”

Daarna stort hy inmekaar van wat dokters sê ’n beroerte weens ’n geskeurde slagaar was.

Foto’s in Rapport se besit wys dat Kyle dan deur ’n spanmaat van die veld gedra is, eerder as op ’n draagbaar.

Barnes val grond toe kort nadat hy deur ’n teenstander geduik is toe hy die bal van die grond af opgetel het.

Die Sondag het hy ’n noodoperasie ondergaan om drukking op sy brein te verlig, maar dit kon hom nie red nie. Kyle is verlede Saterdag in Maitland begrawe.

“Ná sy begrafnis besef ek ek het antwoorde nodig. Iemand moet dit vir my kan gee. Ek het afsluiting nodig,” het Kyle se ma, Shirley Barnes, aan Rapport gesê.

“Iemand moet verantwoordelikheid aanvaar vir wat met my kind gebeur het. Hoe kan dinge so gewelddadig word dat iemand kan sterf op ’n rugbyveld? Dit pla my baie op die oomblik.

“Die aand het ek aan hom gesê ek bly in die hospitaal. Hy was nog by sy bewussyn. Ek het aan hom gesê: ‘Lekker slaap, ek is net hier langsaan en gaan kom inloer. En onthou, my seun, ek is lief vir jou.’

Barnes lê met sy kop in sy hande op die grond kort ná die duikslag wat op hom uitgevoer is.

“Hy het sy oë oopgemaak en geantwoord: ‘Ek is lief vir jou ook, mammie.’

“Dit was sy laaste woorde aan my. Toe ek 03:00 die oggend by hom kom, het hy nie gereageer nie.”

Kyle se familie vertel daar was glo nie eens ’n draagbaar by die veld nie.

Kyle se broer, Byron, wil weet waarom hy met ’n sagte eerder as stewige nekstut bygestaan is.

“Ek weet dit gaan hom nie terugbring nie, maar daar is soveel vrae rondom die behandeling en sy veiligheid. Ons hoor ook dat hy van een draagbaar na ’n ander oorgeplaas is. Jy kan mos nie . . .”

Spel gaan voort met ’n deurmekaar Barnes wat eers na die verkeerde kant gestap het en toe weer na sy vleuelkant van die veld.

Kyle se ma vind ’n bietjie troos daarin dat haar seun se organe geskenk is. “Sy hart het vir iemand in Johannesburg gegaan, sy longe na Durban. Sy niere vir twee persone in die Kaap. Ek kan oor ’n jaar met daardie mense in kontak kom en sal graag aan hulle wil vertel van die spesiale mens wat Kyle was.”

Sy suster, Danielle Petersen, het Kyle as ’n familieman beskryf wat uit sy pad sou gaan om ander te help.

“Rugby was sy lewe. Hy sou selfs met stukkende tokse gaan speel en dit dan net vasbind met maskeerband. Selfs beserings het hom nie van die veld af gehou nie.”

Kyle se ma sê hy moes eintlik op dié dag nie gespeel het nie weens ’n ontwrigte knieskyf.

“Die fisio het hom afgeboek. Maar hy wou speel.”

Kyle se tweeling, Caylib en Caylin, het agt jaar oud geword op die dag wat sy lewensondersteunende masjiene afgeskakel is.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het by monde van ’n woordvoerder gesê indien die omstandighede ’n verdere ondersoek benodig, sal WP dit doen.

“Omdat ons nie eerstehandse inligting van ’n paramedikus het wat die wedstryd bygewoon het nie, is dit onmoontlik om te sê wat die regte ingryping moes wees,” het die Saru-woordvoerder gesê.

“Ons beklemtoon wel dat as ’n speler bewusteloos is of tekens en simptome wys van ’n poten­siële traumatiese brein- or ruggraatbesering, hulle gestabiliseer moet word en op ’n traumabord afgehaal moet word.”

’n Nadoodse ondersoek is glo begin maar die familie dra nie kennis daarvan nie.

Teen druktyd het die WP nog nie op Rapport se vrae gereageer nie.

Meer oor:  Kyle Barnes  |  Saru  |  Wp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.