Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ons wil ’n voorbeeld van Etzebeth maak,’ sê MRK

Daar is ’n sterk saak van haatspraak wat die Springbok-slot Eben Etzebeth oor die gebruik van die h-woord in die gelykheidshof moet beantwoord, sê adv. Buang Jones, nasionale hoof van die Menseregtekommissie (MRK) se regsafdeling.

Jones het Donderdagaand die gemeenskap in ’n stampvol Seabreeze-gemeenskapsaal in Langebaan namens die MRK op die hoogte gebring van hoe hul ondersoek vorder na die voorval in Augustus waar Etzebeth en ’n groep mense wat saam met hom was, na bewering vir Enver Wilsnacht en Shiyaad Smith aangerand en rassistiese aanmerkings teenoor hulle gemaak het.

Etzebeth, wat tans in Japan is waar hy Vrydag vir die Springbokke teen Italië in die Wêreldbekerrugbytoernooi uitdraf, ontken die bewerings ten sterkste.

Jones het aan die gemeenskap gesê die MRK sal Vrydagoggend amptelik sy saak van haatspraak teen Etzebeth by die gelykheidshof by die Vredenburg-landdroshof indien.

“Hy sal die geleentheid kry om binne twee tot drie weke op ons saak te reageer. Die landdros sal daarna ’n voorverhoor hou waarby Etzebeth in persoon sal moet verskyn.”

Volgens Jones “wil ons ’n voorbeeld van Etzebeth maak. Ons wil aan ander rassiste wys dat die k- of h-woord pynlik en skadelik is en bruin mense verontmenslik”.

“Ons as die MRK het ook vroeër vandag (Donderdag) met die polisiebevelvoerder op die dorp gepraat en versoek dat ’n nuwe ondersoekbeampte vir die strafregtelike saak teen Etzebeth aangewys moet word omdat die huidige een bevooroordeeld is.

“Ons sal ’n beroep op die aanklaers in die aangeleentheid doen om die saak te vervolg.”

Volgens Jones tree die MRK vreesloos en sonder begunstiging op en kyk hy net na die feite.

“Ons gee nie om oor iemand se prominensie in die samelewing of hul agtergrond nie. Die feite voor ons in die verklarings wat ons tot dusver afgeneem het, wys daar is ’n saak vir Etzebeth om te antwoord.

Ons gee nie om oor iemand se prominensie in die samelewing of hul agtergrond nie. Die feite voor ons in die verklarings wat ons tot dusver afgeneem het, wys daar is ’n saak vir Etzebeth om te antwoord.

“Ons het ook na beeldmateriaal gekyk, want ons is ingelig dit is nie die eerste keer dat hy só opgetree het nie. Hy het net glo altyd daarmee weggekom. Dit moet hier stop.

“Hy kan die beste prokureurs in Kaapstad aanstel, geregtigheid sal seëvier. Die feite is die feite.”

“Die feit is dat Enver Wilsnacht (42) (en Shiyaad Smith) se regte geskend is. Hy en Langebaan eis geregtigheid.”

Volgens Jones is die saak ook die perfekte een om te wys dat die onregte teen die bruin gemeenskap nie langer geïgnoreer kan word nie.

Hy het sy teleurstelling uitgespreek teenoor Beauty Dlulane, voorsitter van die portefeuljekomitee oor sport, kuns en kultuur, wat vroeër Donderdag die MRK en SA Rugby versoek het om die aangeleentheid voortaan baie beter te hanteer aangesien dit “tans blyk dat hulle Etzebeth in die media in die verleentheid wil stel en die aandag van Suid-Afrika se deelname aan die Wêreldbekertoernooi in Japan wil aflei”.

Lees ook: Eben-saak: 'MRK moet beter doen'

As daar gronde vir vervolging is, moet die bevoegde instansies daaroor besluit nadat ’n noukeurige proses gevolg is om vas te stel wat gebeur het, het sy gesê.

“Lopende kommentaar in die media, veral gegewe die ernstigheid van wat mnr. Etzebeth na bewering gedoen het, sal nie enigiets oplos nie. Elkeen het ’n mening oor die aangeleentheid, maar dit is tyd vir die regte instellings om die feite in te samel en om daarvolgens te handel.”

Jones het hierop gesê die MRK doen sy werk vreesloos en sonder begunstiging.

“Of jy nou Eben Etzebeth, Adam Catzevelos of Angelo Aggrizzi is, jy sal in die hof verskyn. Ons almal is gelyk voor die hof.”

Sammy Claassen, een van die klaers by die MRK, het aan die gemeenskap gesê hy sal in reaksie op Dlulane se uitlating aan die portefeuljekomitee skryf om na die gemeenskap van Langebaan te kom luister. “Hulle kan nie kant kies nie. Hulle moet aan die kant van die Grondwet wees.”

Of jy nou Eben Etzebeth, Adam Catzevelos of Angelo Aggrizzi is, jy sal in die hof verskyn. Ons almal is gelyk voor die hof.

Meer oor:  Buang Jones  |  Mrk  |  Eben Etzebeth  |  Haatspraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.