Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Senekal: ‘Boerelegioen was gereed’
Die konfrontasie tussen EFF-lede en burgerlike groepe op Senekal is ontlont. Foto: Anena Burger

Gewapende burgerlikes was glo Vrydag strategies om Senekal en in die koppe bo die dorp gereed om in te gryp sou die spanning tussen die EFF en burgerlike groepe handuit ruk.

Izak van Zyl, leier van die Boerelegioen, praat met 'n groep boere buite Senekal. Foto: Skermgreep

Altesaam 40 leiers van burgerlike organisasies het Donderdag in Bloemfontein vergader om gebeurlikheidsplanne vir die saamtrek op Senekal te maak, het Sondag aan die lig gekom.

Izak van Zyl, leier van die Boerelegioen, sê verkenners het verlede week, voor die saamtrek op Senekal, reeds ontsnappingsroetes beplan indien geweld sou uitbreek.

Hy hou egter vol dat “daar geen bedoeling was om ’n oorlog te begin nie”, maar dat hulle wel goed voorbereid was indien dit sou gebeur.

Van Zyl het Vrydag omstreeks 10:00 buite die dorp aan ’n groep ondersteuners gevra of die groep as deel van ’n protesaksie na die dorp wou loop.

“As die EFF vandag die streep in die sand trek en een boer word onnodig deur ’n polisieman geskiet, dan sal ek op daai verhoog klim – en dis my belofte. Dan sal ek my volk in ’n burgeroorlog lei. Ek sal lei en ons sal voorbereid wees.”

Van Zyl sê hy het nié met dié stelling oorlog verklaar nie, maar gewaarsku dat dit die gevolg sou wees indien geweld uitbreek.

“Dit is nie ’n oorlog wat deur die ‘Boere’ verklaar word nie, maar ’n oorlog wat reeds 25 jaar gelede teen die wit mense in Suid-Afrika verklaar is,” het hy aan die groep gesê.

Hy sê hy het besluit om van die aangewese gebied na die dorp te beweeg nadat hulle inligting ontvang het dat ’n groep deur die EFF in die dorp vasgekeer was.

Van Zyl het versterkings van diegene wat by Biddulphsberg, 16 km van Senekal, by ’n roudiens vir Brendin Horner was, ingeroep en sy groep het hierna na die dorp gestap.

Hulle is egter deur die polisie voorgekeer om te verhoed dat die onderskeie groepe slaags raak.

Intussen het Kallie Roux en Schalk van der Merwe van Unite Against Farm Murders and Attacks, en André Nel van die Kommandokorps die konflik in die dorp ontlont.

Van Zyl sê hy was deurentyd met die bevelvoerder van die polisie in gesprek en het sy besluite gerespekteer.

“Ons wou graag hê dat die polisie ons deur die dorp begelei sodat ons ook ons stem kon laat hoor, maar as ’n oudpolisielid het ek sy besluit verstaan.

“Ons is bly die konflik is vinnig ontlont en dat alles uiteindelik goed verloop het.”

Past. TJ Mare van die 911Bikers, een van twee groepe motorfietsryers wat Vrydag op Senekal was en in ’n stadium deur EFF-lede vasgekeer is. Foto: Anena Burger

• Intussen is ’n tweede man wat na bewering op 6 Oktober aan die stormloop na die landdroskantoor hier deelgeneem het, Vrydag in Senekal in hegtenis geneem. Hy verskyn Maandag in dieselfde hof.

Die 31-jarige man is Vrydagmiddag aangekeer nadat die polisie hom gebel het om ’n verklaring te gaan aflê, het sy vrou Saterdag aan Marietjie Gericke gesê.

Hy is nou in die tronk in Hennenman. Sy prokureur kon hom eers Saterdagoggend besoek, het sy vrou gesê.

André Pienaar (51) van Senekal, die eerste man wat in verband met die stormloop in hegtenis geneem is, sal ook Maandag weet of sy appèlaansoek in die hooggeregshof in Bloemfontein teen die mislukking van sy borgtogaansoek geslaagd is.

• Die Menseregtekommissie ondersoek ook die VF Plus se klag van haatspraak teen die EFF nadat EFF-lede Vrydag “Kill the Boer, the farmer” gesing het.

Meer oor:  Anc  |  Oorlog  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.