Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Ontwisbare bewyse kan Oscar uit tronk kry' - pa

Oscar Pistorius “hoort nie in die tronk nie en behoort nie meer lank daar te wees nie”, sê sy pa, Henke Pistorius.

“Dit gaan uiteraard nie skitterend met hom in die gevangenis nie, maar hy sou nie gekom het waar hy was as hy ’n hensopper was nie.

“Daar is baie te skrywe oor sy invloed op mense in die tronk. Hy doen al die programme wat die tronk aanbied en jy kan nie ’n beter modelgevangene kry nie,” sê Pistorius.

Die voormalige paralimpiese atleet dien tans sy vonnis van effektief 13 jaar en vyf maande tronkstraf in die Atteridgeville-gevangenis buite Pretoria uit.

Volgens ons reg is dit verpligtend vir ’n regter om te sê waar en in watter mate ’n deskundige mening met vonnisoplegging in ag geneem is. Dit is nie gedoen nie.

Hy het sy destydse vriendin, die model Reeva Steenkamp, in 2013 op Valentynsdag deur ’n toe toiletdeur doodgeskiet.

Oscar het aangevoer dat hy gedink het dat dit ’n inbreker was, maar die hof het bevind dat hy moes kon voorsien dat hy die persoon agter die deur se dood kon veroorsaak.

Sy pa “is besig om verdere opsies” te ondersoek en het, volgens hom, “fundamentele” en “onteenseglike” bewyse gevind dat Oscar se weergawe van daardie aand waar is.

Pistorius sê hy het reeds iemand wat kyk na dié feite, maar wil nie in dié stadium sê wat hul volgende stap gaan wees nie.

“Mense moet vergeet van ’n argaïese regsbeginsel soos dolus eventualis (’n opsetlike optrede waarvan die uitkoms voorsien of behoort voorsien te kon word). Enigeen wat ’n maatband kan hanteer, sal die ballistiese feite besef,” sê hy.

Pistorius sê een so ’n “ballistiese realiteit” is die groepering van die vier koeëlgate in die toiletdeur.

Volgens hom is dit kwalik groter as ’n baksteen.

“Hierdie groepering is laer as 1 m van die grond af en is met laser gemeet, wat ’n afwaartse trajek toon. Slegs iemand wat – al is dit onbewustelik – wil mis skiet, skiet so.

“Die tragedie is dat die eerste koeël Reeva se heup getref het en, soos sy geval het, het twee ander afwaartse skote haar getref.

“Oscar het net gevuur: vier vinnige skote ná mekaar. Dit bevestig dat hy instinktief uit vrees opgetree het. ’n Deskundige het mos getuig dat hy weens oordrewe sielkundige vrees so opgetree het.”

Oscar het in sy verhoor aangevoer dat hy nie gedurende die voorval sy kunsbene aangehad het nie, wat hom weerloos laat voel het.

“Volgens ons reg is dit verpligtend vir ’n regter om te sê waar en in watter mate ’n deskundige mening met vonnisoplegging in ag geneem is. Dit is nie gedoen nie.”

Hy voeg by: “Oscar was oortuig dat hulle aangeval word – in ’n land waar die afskuwelikste moorde gepleeg word, mans vasgebind word en hul vroue voor hulle verkrag en gemartel word.”

Daarby, voer Pistorius aan, sou die lawaai van die vier skote in die badkamervertrek van 2,5 m by 3,5 m nagenoeg 80% bo skadelike klankvlakke gewees het.

“Dink aan die ontsettende klank wat vier skote in daardie ruimte veroorsaak het.”

Met verwysing na die moordwapen sê Pistorius: “Die logiese vraag is, indien Oscar iemand wou doodskiet, hoekom nie die wapen leegskiet nie?

“Oscar het opgehou skiet toe hy besef die toiletdeur gaan nie oop nie. Daar was nog 13 van die 17 patrone in die wapen,” sê Pistorius.

*Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, sê hy kan nie uitbrei oor die aktiwiteite waarby Oscar in die tronk betrokke is nie, maar dat die “gevangene met sy vonnisplan saamwerk”.

Meer oor:  Oscar Pistorius  |  Henke Pistorius  |  Pretoria  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.