Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ontploffing: Slagoffers se DNS ontleed

Die name van die slagoffers van die ontploffing by Rheinmetall Denel Munition (RDM) se aanleg in Kaapstad sal na verwagting aanstaande week bekend gemaak word nadat hulle amptelik uitgeken is.

RDM het aangedui die uitkenning van die slagoffers van Maandag se ontploffing moet afgehandel word en die name sal ná raadpleging met die families bekend gemaak word.

Dit volg ná ’n vergadering Donderdagoggend met die families by RDM se kantore in Macassar.

Norbert Schulze, uitvoerende hoof van Rheinmetall Denel Munitions. Foto: Jaco Marais

Intussen is die oorsaak van die ontploffing, wat minstens agt werknemers se lewe geëis het, nog onbekend.

Norbert Schulze, uitvoerende hoof van RDM, sê die vergadering is gehou om die families “ten volle bewus te maak” van wat tot dusver oor die voorval bekend is en die versekering te gee dat die maatskappy hulle steeds sal bystaan.

“Ons is ’n maatskappy in rou. Ons is ’n gemeenskap in rou. Daar is niks belangriker as om die beste ondersteuning te bied en om om te sien na die families ná die hartverskeurende voorval nie.”

Schulze sê berading en steun word nie net aan die families gebied nie, maar aan alle werknemers.

“Ons werk almal saam om vas te stel wat gebeur het en waarom. Ons werk dag en nag met die owerhede om dit te bepaal, omdat ons almal antwoorde soek.”

RDM het ’n beroep op die media gedoen om die privaatheid van diegene in rou te eerbiedig, weens die “sensitiwiteit van die ondersoek en die behoeftes van die familie en personeel”.

Shulze sê RDM het homself daartoe verbind om deursigtig te wees tydens die ondersoek, maar dat die beskerming van families wat geliefdes verloor het die hoogste voorkeur geniet.

“Hul beskerming kom eerste. Dit is ononderhandelbaar vir ons.”

Helen Zille, Wes-Kaapse premier. Foto: Jaco Marais

Helen Zille, Wes-Kaapse premier, het ná die vergadering gesê sy glo RDM het ’n “volledige en baie eerlike” voorlegging aan die families gelewer en homself daartoe verbind om alle beskikbare inligting te deel.

“Daar is steeds onbeantwoorde vrae vir hulle en ’n omvattende ondersoek word gedoen, omdat hulle ook ’n belang daarin het om te weet hoekom dit gebeur het en hoe dit voorkom kan word.”

Volgens Zille is die families “heeltemal verpletter” en het sy haar medelye namens Wes-Kapenaars aan hulle oorgedra.

“Hul geliefdes het gegaan om ’n doodgewone skof te werk, normale werk te verrig en het nooit weer teruggekom nie. Ons staan almal saam met hulle in dié aaklige tyd van tragedie.”

Sy het benadruk dat die slagoffers se DNS nou ontleed word en RDM gesê het dat hy nie wil bespiegel oor hul identiteit totdat dit afgehandel is nie.

Rhoda Bazier, ANC-raadslid in die Kaapse metroraad. Foto: Jaco Marais
Die vlae van Suid-Afrika, Duitsland en Rheinmetall Denel Munition (RDM) hang halfmas by dié maatskappy se kantore naby die aanleg in Macassar, Kaapstad, wat Maandag deur ’n ontploffing geruk is. Foto: Jaco Marais

Zille sê die provinsiale rampbestuur was nou betrokke tydens die reddingspoging ná die ontploffing en sal betrokke bly “om te verseker dat elke stukkie inligting wat bekom word, ter tafel gelê word”.

Rhoda Bazier, ANC-raadslid, sê in die voorlegging glo aan die families is verduidelik waar die personeel ten tyde van die ontploffing gewerk het en hoe die gebou voor en ná die ontploffing gelyk het.

Sy sê RDM het onderneem om Dinsdag verdere inligting aan die families te gee en dat begrafnisreëlings eers getref kan word namate die slagoffers uitgeken word, met dié dat hul oorskot vir DNS-toetse gestuur is.

  • ’n Gedenkdiens vir die mense wat in Maandag se ontploffing dood is, word Donderdag om 19:00 in die Anglikaanse kerk St. Joseph the Worker in Marvin Park, Macassar, gehou.
Blomme staan teen die muur by die ingang van Rheinmetall Denel Munition (RDM) se aanleg in Macassar, Kaapstad, waar families van die slagoffers van Maandag se ontploffing Donderdag met die maatskappy vergader het. Foto: Malherbe Nienaber

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.