Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ontploffing veroorsaak paniek aan Wes-Rand

’n Onbewaakte ploftoestel het Dinsdagoggend paniek veroorsaak toe dit ontplof het terwyl die polisie op onwettige mynwerkers in Matholeville, Roodepoort, toegeslaan het.

Niemand is beseer nie.

Onwettige mynwerkers het omstreeks 09:00 uit die gebied gevlug toe verskeie polisie-eenhede klopjagte in die gebied uitgevoer het.

Die polisie het huise bestorm en beslag gelê op mynboutoerusting, wat insluit plofstof, toestelle wat ontploffings veroorsaak, graafwerk-gereedskap en lampe, asook hope goue poeier.

Die polisie het ook tydelike werkwinkels waar onwettige myners goud verwerk, afgebreek.

Givers Ncube, wat sê hy is onwettig in die land, was in trane toe die polisie op sy sakke grond wat nog nie verwerk is nie, beslag gelê het.

Die polisie Dinsdag tydens die klopjagte in Matholeville, Roodepoort. Foto: Ntwaagae Seleka

Hy sê hy het twee weke ondergronds gegrawe om goud te kry.

“Ek het vroegoggend uitgekom. Die polisie is wreed, hoe kan hulle my grond vat? Ek weet wat ons doen, is onwettig, maar hulle moes ons toegelaat het om pad te gee.

“Ek het in 2010 onwettig van Zimbabwe gekom nadat my broers my gewerf het. Ek het hierdie werk by mede-Zimbabwiërs geleer. Ons steel niks nie. Ons neem wat die myne ondergronds gelos het.”

Ncube sê hulle loop tussen vyf en tien uur ondergronds op soek na ’n “vrugbare” plek om te myn.

“Ons dra gevaarlike toerusting soos plofstof om rotse ondergronds op te blaas. Dit is nie veilig ondergronds nie, aangesien ons bots met ander zama-zamas wat van ons wil steel.

“Noudat die polisie my ‘geld’ weggeneem het, moet ek nou langer ondergronds gaan werk om meer geld te verdien. Ek het verwag om tussen R2 000 tot R3 000 te verdien voordat die polisie die grond weggeneem het,” sê hy.

Nog ’n onwettige myner, Peter Seleele, het ook gekla oor die aanval. Onwettige mynbou het sy enigste bron van inkomste geword sedert hy in 2012 in Suid-Afrika aangekom het.

Conel Mackay van Roodepoort se forensiese ondersoekeenheid sê hulle is bekommerd oor verskeie onwettige aktiwiteite in Matholeville.

“Daar is onwettige waterverbindings. Hulle gebruik ook onwettig elektrisiteit. Dit is ’n beskermde ruimte. Brandstofpype van Transnet is onder die grond waar die onwettige aktiwiteite uitgevoer word. Die pype is nie diep nie,” sê Mackay.

“Ons was verlede jaar hier. Ons hoop om dit uiteindelik in bedwang te bring. Die misdaadsyfer is baie hoog hier omdat hulle oor gebiede bots. Dit is nie iets wat ons oornag sal uitskakel nie,” sê Mackay.

Kapt. Juanita Yorke, polisiewoordvoerder, sê verskeie mense is in hegtenis geneem. Die getal sal later bevestig word.

Meer oor:  Wes-Rand  |  Ontploffing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.