Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ontvoerde joernalis se familie smeek Cyril om hulp

Sy wil net weer haar seun vashou en sy stem hoor. Die ontvoerde fotojoernalis Shiraaz Mohamed, se ma, Shireen, vra dat pres. Cyril Ramaphosa aandag gee aan haar familie se brief aan hom.

Shiraaz Mohamed op die bewys-van-lewe-video.

Shiraaz (41) was in opdrag van die Gift of the Givers-organisasie in Sirië om foto’s te neem toe hy op 10 Januarie 2017 naby dié hulporganisasie se Ar Rahma-hospitaal in Darkoesj in die noorde van Sirië ontvoer is.

Op stemdag het Shireen Mohamed (61) die president in Soweto gaan inwag om die familie se smeekbrief aan hom te kan oorhandig. “Ons weet nie meer watter kant toe om te draai vir hulp nie,” sê sy.

“Shiraaz se broer, Ridwaan, het die president se aandag getrek, toe beveel Ramaphosa sy lyfwagte om ons deur te laat. Hy vra my toe of ek oukei is en ek sê nee, want ek is nie. Ek het ons brief vir hom gegee en hom op sy wang gesoen en toe huil ons hele familie.”

Die president het gesê hy weet van Shiraaz se situasie en dat die departement van internasionale betrekkinge en samewerking betrokke is om die probleem op te los, sê Ridwaan. “Maar ons hoor niks meer van hulle nie.”

Sy ma kry swaar. Sy het sedert Shiraaz se ontvoering ’n hartaanval gehad.

Shirley Brijlal, die ontvoerde fotojoernalis Shira
Shirley Brijlal, die ontvoerde fotojoernalis Shiraaz Mohamed se eksvrou, Ridwaan Mohamed, sy broer, en Shireen Mohamed, sy ma ?.?.?. hulle soek antwoorde,

“Maar God gee my die krag om aan te gaan. Ek moet sterk bly vir my seun. Almal, van staatsveiligheid tot internasionale betrekkinge en samewerking, het al met ons gepraat, maar ons kry die gevoel daar is geen besef van die gevaar waarin hy hom bevind nie. Daar is ook geen haas nie.”

Die familie het Dinsdag ’n tweede video uit Sirië ontvang waarmee die ontvoerders bewys Shiraaz leef nog. Shiraaz smeek om hulp en sê hy het ’n tweede bomaanval van die Russiese lugmag oorleef, maar dat sy “situasie versleg”. Hoewel daar in sekere kringe twyfel oor die egtheid van dié video bestaan, glo die familie dit is hy.

“Dit is my seun wat daar praat. Ek kan aan sy stem hoor hoe bang en bekommerd hy is,” sê Shireen.

Die familie het in September 2017 ’n brief van Mohamed in sy eie handskrif ontvang. Hy skryf in die brief aan sy “geliefde familie” hy is jammer hy laat hulle só ly. Hy sê hy bid vir hulle en vra hulle gebede. “Ek benodig al die hulp wat ek kan kry. ’n Deel van die ooreenkoms vir my vrylating is die vrylating van Siriese Moslem-gevangenes wat deur die Siriese regering aangehou word,” skryf hy.

“Ek weet dis moeilik, maar julle moet asseblief ’n goeie dag hê,” sluit hy af.

Teen saktyd het die presidensie nie op Rapport se navrae reageer nie, maar die departement van internasionale betrekkinge en samewerking sê hulle werk aan die saak. “Ons weet waardeur die mense gaan. Dit is ’n delikate saak. Ons kan nie besonderhede bekend maak nie,” sê Ndivhuwo Mabaya, woordvoerder.

Dr. Imtiaz Sooliman, hoof van Gift of the Givers, sê hulle is bekommerd, maar hoopvol.

Meer oor:  Shiraaz Mohamed  |  Sirië  |  Ontvoering  |  Gift Of The Givers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.