Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ontvoerde se vrou: ‘My hart sê hy leef, my verstand hy is dood’

Dit is nou ’n jaar en drie maande sedert Amanda Bothma se man in Burkina Faso verdwyn het.

Met haar verstand besef sy hy leef waarskynlik nie meer nie, maar in haar hart bly sy vasklou aan die hoop dat hy nog leef totdat sy sy oorskot ontvang het.

Amanda Bothma en haar en Christo se dogter, Mariska.Foto: Susan Cilliers

So het Bothma, van Potchefstroom, Vrydag gesê. Christo (54) is in September 2018 ontvoer terwyl hy by ’n myn in Burkina Faso in Wes-Afrika gewerk het.

’n Groep terroriste wat vermoedelik deel is van die groter Al Kaïda-beweging, het ’n losprys van $40 miljoen geëis vir die vrylating van Christo, Vikram Patel, die seun van die myneienaar vir wie Christo gewerk het, asook vier ander mense (van ander lande) wat ook ontvoer is. Die Patels is oorspronklik van Indië.

Dr. Imtiaz Sooliman, stigter en bestuurder van Gift of the Givers wat die Bothmas bystaan, het Vrydag gesê hy glo nie daar is rede om die inligting wat hulle maande gelede van informante ontvang het, dat Christo dood is, in twyfel te trek nie. “Die ontvoerders het in die verlede nog nooit hieroor gejok nie. Daar is geen rede hoekom hulle sal nie, want vir ’n lewende kan hulle ’n losprys eis, maar nie vir ’n dooie nie.”

Steeds vermis: Christo Bothma.Foto: Verskaf

Sooliman sê die uitdaging is egter om inligting te kry oor presies waar, wanneer en hoe Christo dood is en of dit moontlik sal wees om sy oorskot na Suid-Afrika terug te bring. “Ons werk nou met ander groepe as in die verlede, dis baie moeilik vir ons informante om inligting uit hulle te kry tensy ’n mens van aangesig tot aangesig met hulle kan praat.”

Intussen hou die Bothma-gesin net-net kop bo water sonder die inkomste van Christo, wat die broodwinner was. Hulle beplan om vroeg volgende jaar ’n konsert in Potchefstroom te hou, waar onder andere Hugo Storm sal sing, om geld in te samel. Bothma verdien nie ’n groot salaris as ontvangsdame by ’n prokureursfirma nie.

Jacques (25) en Christopher (24), Bothma en Christo se seuns, help uit hul salarisse om die gesin se huispaaiement in Potchefstroom te betaal en kos te koop. Die 20-jarige Mariska sukkel nog om werk te kry nadat sy haar studiedrome vir eers moes laat vaar. Sy het planne gehad om gasvryheidsbestuur te studeer, maar kan dit nou nie meer bekostig nie.

Christo is in 2013 die eerste keer na Burkina Faso om daar as ’n instandhoudingsbestuurder by ’n myn te gaan werk. Hy het vir die Balaji-myngroep gewerk toe hy op pad na ’n myn ontvoer is. Christo het toe so goed verdien dat Bothma nie nodig gehad het om te werk nie.

Die laaste kommunikasie met hom was op 23 September 2018 toe Mariska ’n boodskap vir hom op Facebook gestuur het. Sy kon sien hy het dit gelees, maar hy het nooit geantwoord nie. Hy is vermoedelik in dieselfde tyd wat hy die boodskap gelees het, ontvoer. Die voertuig waarin hulle tydens die ontvoering was, is sowat 20 km van Mali se grens gevind.

Clayson Monyela, woordvoerder vir die departement van internasionale betrekkinge en samewerking, het vroeër gesê die Suid-Afrikaanse konsulaat ondersteun die Bothma-gesin, maar dat hulle geen inligting oor hul betrokkenheid by die ontvoering bekend kan maak nie weens die sensitiwiteit van die situasie.

Meer oor:  Christo Bothma  |  Burkina Faso  |  Ontvoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.