Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Onwettige’ aanstelling bedreig Wonderboom-lughawe
Die Wonderboom-lughawe in Pretoria.Foto: Marthinus Koekemoer

Die Tshwane-metro het ondanks ’n verdoemende verslag van die ouditeur-generaal oor onreëlmatige uitgawes van R5 miljard van die stad, ’n diensverskaffer heraangestel om die Wonderboom-lughawe in Pretoria te bedryf. Dié aanstelling is gedoen ondanks waarskuwings van die metro se regspan dat dit onwettig sal wees.

Maar die metro sê die Burgerlugvaartowerheid (BLO) kan die lughawe sluit as ’n bestuurder nie aangestel word nie, en ’n geskikte interne kandidaat kon nie gevind word nie.

“Die lughawe-bestuurspos is weens ’n foutiewe en onvoldoende posbeskrywing en minimumvereistes nie gevul nie,” het die metro se departement van paaie en vervoer gesê ter verdediging van die heraanstelling van die eksterne bestuursmaatskappy.

Die lughawe was voorheen onder beheer van ’n interne bestuurder met personeel wat onder die departement van paaie en vervoer gedien het. Daarna was dit onder beheer van die kantoor van die burgemeester van Tshwane en later dié van die stadsbestuurder.

Die BLO het twee jaar gelede gedreig dat die Wonderboom-lughawe gesluit kan word nadat ’n ondersoek getoon het dat mense wat dit gebruik, se lewe in gevaar gestel word.

Probleme is reeds in 2014 by die lughawe geïdentifiseer. SA Airlink het verlede jaar vlugte tussen Kaapstad en Wonderboom stopgesit omdat die roete nie winsgewend genoeg was nie.

Voorts het bekommerde werknemers vroeër vanjaar die openbare beskermer gevra om die bestuur van die lughawe te ondersoek.

Die lughawe gegenereer inkomste vir die metro en dien as ’n aankoms- en vertrekpunt vir hoëprofielbesoekers aan die hoofstad, wat verskeie ambassades, groot maatskappye se hoofkantore en regeringsorganisasies huisves.

’n Dokument wat News24 onder oë gehad het, toon dat die metro se bod-keurkomitee op 1 Augustus voorgestel het dat Professional Aviation Services (PAS) vir ses maande op ’n maand-tot-maand-grondslag teen R828 000 per maand aangestel word vir die bestuur van die lughawe. Die maatskappy is die einde van 2017 die eerste keer aangestel.

In ’n verslag van die keurkomitee aan die metro se departement van paaie en vervoer is daar gevra om die normale prosedure te systap om PAS se aanstelling goed te keur. Die nasionale tesourie maak wel hiervoor voorsiening, maar net onder sekere omstandighede soos in ’n noodgeval of waar daar nie ’n ander bod vir die kontrak ontvang is nie.

Volgens die verslag het die metro se vorige lisensie om die lughawe te bedryf op 31 Julie verstryk.

Die departement van paaie en vervoer het sy versoek om PAS weer aan te stel verdedig aan die hand van die lugvaartowerheid se ondersoeke in 2017 wat getoon het dat die lughawe 89 regulasies oortree. Die verslag lui dat van hierdie tekortkominge tot die verlies van menselewens kan lei.

Die verslag gaan verder om te sê dat baie van die probleme reeds getakel is, maar ’n volskaalse noodontruiming moet nog gedoen word, die kamerastelsel en die X-straal-masjiene het nie gewerk nie en die aanloopbaan se ligte het herstelwerk nodig.

Die oefening vir die noodontruiming word wel vir November beplan.

Die departement van paaie en vervoer sê die BLO sal nie die lughawe se lisensie nie hernu as ’n bestuurder nie aangestel word nie, maar dat ’n interne proses om ’n bestuurder aan te stel, nie suksesvol was nie.

’n Alternatiewe aanstellingsproses is begin wat ses maande sal neem om af te handel, en dus is die keurkomitee gevra om PAS se aanstelling goed te keur. Intussen sal ’n ander bestuurder gesoek word of sal die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (ACSA) gevra word om die bestuur te behartig.

Die keurkomitee het goedkeuring gegee, maar nie voordat senior regsraadgewers en finansiële personeel hul sê gehad het nie. Die finansiële hoof wou weet hoe daar op die betaling van R828 000 per maand besluit is. ’n Faktuur van PAS wat News24 gesien het, toon slegs die inskrywing “dienste volgens mandaat gelewer”.

Amptenare van die metro se regsdienste het gesê die verslag aan die keurkomitee is “ingevolge wet nie in orde nie”. Voorts sê hulle die versoek om die aanstellingsprosedure te systap, is teen met die metro se eie riglyne en regsregulasies.

’n Vorige betaling aan PAS moes as onwettig verklaar word aangesien dit gemaak is toe daar nie ’n betalingsooreenkoms met die maatskappy bestaan het nie. ’n Kontrak is wel later onderteken.

Ongeag die besware het die keurkomitee steeds die aanstelling van PAS voorgestel.

Toe News24 die metro vir kommentaar genader het, is hulle na die verduidelikings in die keurkomitee se verslag verwys.

Meer oor:  Tshwane-Metro  |  Bestuurder  |  Ondersoek  |  Heraanstelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.