Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ooievaarstee so in die verbyry

Die ooievaar word nie ingeperk nie, so hoekom nie ’n ooievaarstee hou nie?

Lize en Johan Ungerer in Klara-Belle se babakamer. Haar koms word in Julie verwag. Foto: Deon Raath

’n Swanger vrou van Balfour in Mpumalanga kon haar oë nie glo nie toe tien karre vol familie en vriende verlede Vrydag uit die bloute voor haar huis opdaag vir haar verbyry-ooievaarstee.

Lize Ungerer (36) straal van geluk. “Dit was alles my ma, Sandra Janse van Vuuren, en my vriendin Anneli Potgieter se werk. Ek was só verras.”

Lize het ’n paar weke gelede vir haar ma gesê sy is hartseer omdat haar mense nie vir haar ’n ooievaarstee kan hou nie. Min het Lize, ’n gr. 1-onderwyseres aan die Laerskool Balfour, besef dié kuiken het reeds in Sandra se kop uitgebroei.

Almal het gestop en geskenke afgelaai.

“My ma en pa kuier by ons om my te help. Ek het verlede Vrydag in ons garage gesit en werk met die groot deur oop. Ek het nie eens besef my ma was besig om die motorhek skaars ’n paar meter weg te versier nie,” vertel Lize.

Teen daardie tyd was die wiele reeds volspoed aan die rol.

“Mense wat nie kon kom nie, het vroeër geskenke by my ma in Midrand gaan aflaai. Een spesiale vriendin het sommer haar geskenk van Centurion tot in Midrand met ’n Uber gestuur.”

Geskenke word afgelaai vir Lize Ungerer se verbyry-ooievaarstee.

Nóg ’n vriendin het haar op die dag gebel. “Sy het gevra ek moet ons honde, Bobby en Tinkerbella – ’n basset en ’n Great Dane– in die motorhuis toemaak, sy wou iets kom aflaai.”

Buite het ’n reuseverrassing voor Lize begin afspeel.

“My ma het die motorhek met Klara-Belle se naam en skaapprentjies en linte versier. Haar babakamer het ’n skapietema.”

Amper-ouma Sandra lag.

’n Geskenk word afgelaai vir Lize Ungerer se verbyry-ooievaarstee.

“Ek het daardie dag die hele tyd heen en weer voor die motorhuis verbygeloop. Lize het so hard op haar werk gefokus, sy het niks agtergekom nie.”

En toe daag die vriende op. “Almal het gestop, geskenke afgelaai en elkeen het ’n geskenkie by my ma gekry voor hulle dadelik weer gery het.”

Deur die blydskap was dit ook moeilik vir haar.

“Ek is ’n touchy-feely mens. Dit was vreeslik onnatuurlik om hierdie mense vir wie ek so lief is nie almal te kan vasdruk en dankie-soen nie,” sê Lize.

Maar wat was in die gaste se geskenkpakkies?

“My ma het fudge-koekies gebak. Elke gas is met ’n sakkie koekies, ’n boekmerk en ’n vetplantjie in ’n pot – op die pot het daar gestaan watch me grow – hier weg.”

Lize en haar man, Johan (36), verwag klein Klara-Belle se koms in die hartjie van die winter.

“Die datum is 23 Julie, maar die dokter sê sy gaan dalk ’n week vroeg wees. Ons is vreeslik opgewonde,” sê Johan.

Meer oor:  Balfour  |  Ooievaarstee  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.