Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oom Basie wil ’n ‘band’ hê

Oom Basie soek ’n band.

Dit is die hartswens van die 94-jarige Hercules “Basie” Knoetze om ander musikante te ontmoet wat saam met hom boeremusiek kan maak.

Oom Basie Knoetze (94) van die Bronberg-aftreeoord in Pretoria soek ’n nuwe orkes om saam met hom boeremusiek te maak. Foto: Elizabeth Sejake

Dié bejaarde musikant het vroeg vanjaar in die Bronberg-aftreeoord in Pretoria gaan woon en sê onder die meer as 400 inwoners is daar nie ’n enkele musikant nie. Hy is nou kliphard op soek na iemand wat saam met hom kan inval terwyl hy die krismiswurm kielie.

Sy kleinseun Jacques Baard het vroeër dié week spesiaal ’n boodskap op Facebook geplaas om sy musikale oupa te help soek na ander musikante in die gebied. Daar was tot dusver geen reaksie op sy soektog nie.

Oom Basie loop deesdae met ’n loopraam, maar daar is niks met sy vingers verkeerd nie. Hy speel amper enige instrument onder die son. Solank dit snare of klawers het, kan hy dit tokkel.

' Maar nou speel ek alleen . . .’

“Toe ek nog laasjaar in Nylstroom (Modimolle) gebly het, het ons ’n hele orkes daar gehad,” sê hy. “Ons het nou nie groot konserte gehou nie, maar ons het so nou en dan by die ouetehuis of by die kerk sommer gratis gaan optree. Vir pret. Dis só jammer dat ek nie meer ’n orkes het nie.”

Sy konsertina bly sy gunsteling.

“Ek was amper 30 toe my vrou, Lenie, my eerste konsertina vir my gekoop het.”

Sy broer het hom geleer om kitaar te speel, waarop oom Basie “noot vir noot” die konsertina met die kitaar vergelyk het en homself só geleer het om die konsertina en daarna ander instrumente baas te raak.

In sy kamer in die aftreeoord het oom Basie ook ’n mondfluitjie, ’n mandolien, ’n omnichord , ’n kitaartjie, ’n harmonika en ’n tamboeryn. “Ek het die meeste instrumente al verkoop, want ek raak te oud en ek het baie minder spasie.”

Oom Basie het in sy lewe oor die land heen vir die destydse departement van waterwerke gewerk. Dit het hom van dam tot dam laat reis, wat ook beteken het dat hy in verskillende dorpe musiek gemaak het.

“Ek is in Cullinan gebore,” sê hy. “Maar ek het gewilde dansmusiek met my mondfluitjie in Groblersdal gemaak en ek was deel van Marble Hall se boereorkes.”

Hy het in ’n stadium in Danie Grey, ’n bekende boeremusiekmusikant, se orkes gespeel.

“Maar nou speel ek alleen,” sê oom Basie. “Ek wag maar tot ek nog musikante vind.”

Meer oor:  Basie Knoetze  |  Bejaarde  |  Boeremusiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.