Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oom Ben weer mens ná sy redding uit stink kamer

Ses weke nadat Ben Pretorius (67) uit haglike omstandighede uit ’n kamer in ’n Vanderbijlparkse huis gered is, is hy onherkenbaar met sy geknipte hare en geklee in ’n netjiese sweetpak.

Ben Pretorius en Nicole Counihan, ’n versorger by
Ben Pretorius en Nicole Counihan, ’n versorger by die ouetehuis waar hy woon nadat hy uit haglike omstandighede gered is. Foto: Deon Raath

Sy gesig verhelder en hy waai van die oorkant van die vertrek toe Rapport Donderdag saam met sy versorgers instap by die ouetehuis in die Vaaldriehoek waar hy die afgelope weke versorg word.

Die trauma wat hy opgedoen het toe hy maande lank onversorg, kaal en honger aan ’n bed gekluister was, slaan steeds deur. Hy kan nie alles duidelik onthou nie, maar sê: “Iemand van oor die pad het my aangerand. Ek was amper dood.”

Dan sê hy aan Rapport se fotograaf: “Ek het seer, Meneer.”

Hy word omvou in liefde en versorging, maar kort-kort sê hy weer: “Ek is honger. Ek is dors. Bring vir my iets om te drink, asseblief.”

Pretorius is in Januarie in die huis in ’n gegoede woonbuurt gered waar sy seun en skoondogter hom na bewering toegesluit het. Hy is kaal op ’n ou matras gevind met ’n vuil laken bo-oor hom. Urine en ontlasting het deur die matras gesypel. Bakke kos met maaiers daarin het rondgestaan. Daar was ’n skuifslot aan die deur wat net van buite gesluit kon word, volgens sy skoondogter sodat die stank nie na die res van die huis versprei nie.

Charmaine Breedt, eienaar van die ouetehuis, skeur ’n lekkertjie se papier af en Pretorius vat dit gretig en prop dit in sy mond. Hy is mal oor slaptjips en hoenderfilette met sous.

Hy verstaan nog nie dat hy reeds geëet het en wéér gaan kos kry nie.

“Oom Ben is altyd honger, selfs direk nadat hy geëet het,” sê Breedt.

Die sielkundige knou wat hy gekry het, is van die ergste wat sy tot nog toe gesien het. “Wonde kom en gaan, maar hy smag na liefde.”

Die presiese omstandighede waarin hy hom bevind het voordat Pixie Pink, ’n aktivis vir misdaadslagoffers, en Magda de Man, ’n welsynwerker, ingegryp en hom uit die huis verwyder het, is nog vir hom vaag. Pink het hom onlangs besoek.

Nicole Counihan (28), ’n versorger, beskryf Pretorius as ’n seëning.

“Dit was baie erg om te sien waardeur hy is,” sê sy en die trane rol oor haar wange.

“Die eerste week het ons baie gehuil.

“Hy verstaan nog nie dat hy reeds geëet het en wéér gaan kos kry nie.”

Hy het nog nooit met hulle gepraat oor wat met hom gebeur het nie, sê sy.

Pretorius sê aan Rapport: “Ek het ’n seun wat hier naby bly. Hy is ’n mechanic. Hy en sy vrou en kinders bly hier in Vanderbijlpark. Hy wás hier by my.

“Hy het vanmôre gery.”

Maar sy 31-jarige seun en 26-jarige skoondogter was nie dié oggend of enige ander oggend al by die ouetehuis nie. Klagte van poging tot moord, menseroof, aanranding en die verwaarlosing van ’n bejaarde is vroeër by die polisie in Vanderbijlpark teen hulle ingedien.

Dan sê Pretorius weer: “Ek is dors.

“Ek soek nou ’n koeldrank of selfs ’n bietjie water. Ek is honger. Ek wil ’n hamburger hê.”

Breedt sê hy raak verbouereerd wanneer vreemde mense by die ouetehuis aankom. “Hy is bang hulle gaan hom vat.” Daarom word niemand sonder ’n afspraak by hom toegelaat nie.

Hy het reeds heelwat gewig aangesit.

’n Nommer 30-broek, wat aanvanklik baie los om sy lyf gesit het, is nou amper te klein. Hy kry elke dag fisioterapie en onlangs het hy vir die eerste keer met ’n loopraam geloop. “Ons weet nie hoe lyk sy pad vorentoe nie, maar dit sal baie beter wees as wat dit was,” sê Breedt.

Pretorius vertel hy was reeds op 17 in die polisie en daarna is hy brandweer toe. Dan onderbreek hy homself: “Ek soek iets om te eet, maar daar is nie kos nie. Ek het nie geld vir kos nie en my kop is seer.”

Counihan tel hom in sy rolstoel sodat hy Rapport sy kamer met die splinternuwe bed en beddegoed kan gaan wys. “Dis ’n splinternuwe bed, dis my eiendom,” sê hy. En dan: “Nou soek ek kos, ek het ’n hoofpyn.”

Kol. Sipho Manana, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie wag op terugvoering van dokters oor die geestelike uitwerking wat die maande lange mishandeling op Pretorius gehad het.

Meer oor:  Nicole Counihan  |  Ben Pretorius  |  Vanderbijlpark  |  Verwaarlosing  |  Gered  |  Bejaarde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.