Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
(Oom) Dana Snyman wil weer trou . . .

“Dis lewensveranderend,” sê Dana Snyman, skrywer, joernalis en televisieaanbieder, oor sy verlowing aan Anette Roberts.

“Dis wonderlik, ek het nie gedink so ’n liefde sal ooit met my gebeur nie, dis regtig ’n groot ding . . . daar is soveel clichés,” het Snyman Maandag gesê.

Anette Roberts en Dana Snyman Vrydagaand in Jacobsbaai by die Kontrei-kêffie met die viering van hulle verlowing. Foto: Anton Bester/ Facebook

Snyman (54) het Roberts (51) Donderdag om haar hand gevra naby Pramberg (waaroor Boerneef gedig het) in die Koue Bokkeveld anderkant Ceres in die Noord-Kaap.

Hy het Sondag die verlowing op Facebook aangekondig en gesê hy sal miskien eendag ’n boek skryf oor hoe hulle ontmoet en verlief geraak het.

Die twee het in Januarie vanjaar in Jacobsbaai in die Wes-Kaap ontmoet. Hoewel hulle mekaar nog net vyf maande ken, sê Snyman dit voel glad nie soos ’n kort tydjie op sy ouderdom nie.

“Dit voel vir my al baie lank,” sê hy.

Oor hoe dit voel om iemand te vra om met hom te trou, iets wat hy al voorheen gedoen het, sê Snyman: “Dit word moeiliker.”

Roberts en Snyman was albei al voorheen getroud.

“Ons het geleef, opreg geleef, en foute gemaak,” skryf hy op Facebook.

“Ek wil nie te veel verduidelik nie. Ek en Anette is lief vir mekaar en ons is sag met mekaar.”

Roberts woon in Bloemfontein in die Vrystaat en Snyman woon in Jacobsbaai. Snyman sê dat Jacobsbaai mettertyd die paartjie se tuiste sal word. Snyman het sy huis op Jacobsbaai verkoop en hy en Roberts sal na ’n nuwe huis in dieselfde klein kusdorpie verhuis.

Hy sê hulle het nog nie ’n troudatum vasgestel nie, maar dat hulle eers gaan fokus daarop om “huis op te sit”.

Snyman sê dat hy graag met Roberts wil trou, want “dis net iets wat jy voel”.

“Dis ’n formele, ouwêreldse, mooi ding en ek hou van rituele. Dis ’n romantiese, eerlike idee.”

Die verlowing is Vrydagaand by die Kontrei-kêffie op Jacobsbaai gevier op ’n geselligheid wat volgens Snyman verander het in ’n “jollie paartie”.

“Ons sal, sê maar, iewers wees, en dan wil ek Anette aan iemand voorstel. ‘Dis Anette, my meisie,’ wil ek dan sê. Anette is ’n vrou, en ek ’n oom,” het Snyman op Facebook geskryf oor hoe dit is om in jou “middeljare” verlief te raak.

“Een van die voordele van verlief-en-lief-raak in jou middeljare is jy het nie meer illusies oor live-happily-ever-after nie,” skryf Snyman op Facebook.

“Jy weet live-happily-ever-after is genade, live-happily-ever-after is geduldig, live-happily-ever-after is vriendelik, is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, live-happily-ever-after is nie verwaand nie, handel nie onwelvoeglik nie, en soek nie sy eie belang nie. Live-happily-ever-after bedek alles, hoop alles, glo alles, verdra alles.”

Meer oor:  Dana Snyman  |  Bloemfontein  |  Trou  |  Verloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.