Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oom Paul bly . . . maar kry baie geselskap
Die omheinde standbeeld van oudpres. Paul Kruger op Kerkplein in Pretoria. Foto: Herman Verwey

Die geskiedkundige Kerkplein in Pretoria gaan in sy geheel ’n “monument vir vryheid van spraak” word – en oom Paul se standbeeld bly.

Solly Msimanga, DA-burgemeester van die Tshwane-metroraad, het Donderdag in sy begrotingsrede gesê dié projek, Lalela (die Zoeloe-woord vir luister), sal die eerste in sy soort wees en hopelik bydra tot ’n meer inklusiewe gemeenskap.

Die vorige ANC-beheerde burgemeesterskomitee het die Lalela-projek vier jaar gelede goedgekeur, maar dit het nie gerealiseer nie.

Daar word die laaste paar jaar in Pretoria warm debat gevoer oor of Kruger se standbeeld op Kerkplein moet bly of verskuif moet word. Die beeld is twee jaar gelede toegespan om dit teen vandale te beskerm.

Ons hoop dit (Kerkplein) sal ’n plek word waar die kleurvolle sy van vryheid van spraak geniet kan word en waar dit kan bydra tot die openbare diskoers in Suid-Afrika,
Solly Msimanga, burgemeester van Tshwane.

Die nuwe DA-beheerde administrasie, wat in Augustus verlede jaar die beheer by die ANC oorgeneem het, meen Kerkplein kort ’n “nuwe laag erfenis” waar al sy inwoners tuis sal voel.

Saam met die bekende monument van oudpres. Paul Kruger en sy burgers wat sinoniem met die plein is, sal die nalatenskap en werk van struggle-staatmakers ook op die plein en by die Paleis van Justisie (oorkant die plein) as deel van die Lalela-spraakvryheidsmonument bewaar word.

’n Rots wat van Robbeneiland kom waar politieke gevangenes destyds in die apartheidsjare gedwonge arbeid verrig het, sal onder meer uitgestal word.

Tshwane hoop dit sal lede van die publiek, besoekers en beleggers na die omgewing van Kerkplein lok.

“Ons hoop dit sal ’n plek word waar die kleurvolle sy van vryheid van spraak geniet kan word en waar dit kan bydra tot die openbare diskoers in Suid-Afrika,” sê Msimanga.

Daar sal daagliks vermaak op die plein wees wat hopelik toeriste en plaaslike inwoners sal lok en wat kan bydra tot die hernuwing van die middestad.

Kunstenaars sal dag en nag hier gratis kan optree.

’n Opelugteater word in die vooruitsig gestel van waar kunstenaars se optredes wêreldwyd deur televisie of die internet uitgesaai kan word.

Msimanga sê hy hoop Kerkplein sal in die toekoms wêreldwyd erken word as ’n monument van spraakvryheid en ’n plek waar mense daaraan herinner word dat spraakvryheid nie as vanselfsprekend aanvaar mag word nie.

Cilliers Brink, ’n lid van die burgemeesterskomitee, het by navraag gesê dit is ’n “byvoegprojek, nie ’n aftrekprojek nie”.

Meer oor:  Paul Kruger  |  Pretoria  |  Standbeeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.