Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oop harte vir kinders in moeilike Covid-tyd

’n Man wat 10% van sy erfgeld aan die kinders en personeel van ’n kinderhuis in Limpopo geskenk het, is maar een van talle weldoeners wat hul beursies, spense en store oopgemaak het om die kinderhuis deur die Covid-19-krisis te dra.

Marlene de Villiers, bemarker van die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle, help ’n seun om sy veters vas te maak.

Met die uitbreek van die pandemie het die bestuur van die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle ’n noodfonds gestig wat hulle intensief bemark het.

Gerda van der Merwe, die kinderhuis se uitvoerende hoof, sê toe die noodfonds aangekondig is, het hulle selfs uit Amerika, Australië en Viëtnam oproepe gekry.

’n Bejaarde vrou van Jeffreysbaai het laat weet sy betaal R500 in. Later het haar kleinseun van Pretoria besluit om 10% van sy erfgeld te gee met die versoek dat die geld gelykop verdeel word tussen alle kinders en personeellede “vir almal om daarmee te doen wat hulle wil”.

Met van die erfgeld wat ’n weldoener van Gauteng vir die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle geskenk het, het party kinders ’n trampolien gekoop. Foto’s: Deon Raath

Elk van die 170 kinders en 60 personeellede – van die tuinier tot by die uitvoerende hoof – het R2 000 by dié Gautenger (wat anoniem wou bly) gekry. Baie kinders het mooi duvets en klere gaan koop. Groepies het geld bymekaar gesit om ’n TV en ’n trampolien aan te skaf.

’n Groepie vroue van Polokwane het kos en lekkernye aangery, soos malvalekkers en sampioene. “Elke kind het ’n blik kondensmelk by die vroue gekry.”

’n Prokureur in Sandton het R65 000 gegee. “Mense gee sonder om iets terug te verwag. Baie sê hulle verwag nie eens ’n dankiesê-brief nie.”

’n Boer het skorsies aan die kinderhuis geskenk wat Woensdag vir middagete gekook is. Foto: Deon Raath

Met Rapport se besoek die afgelope week het die kinderhuis se kombuispersoneel skorsies gekook wat ’n boer geskenk het. Limpopo se departement van maatskaplike ontwikkeling subsidieer elke kind met R4 000 per maand. Dit kos egter R6 600 per maand om een kind te onderhou, sê Van der Merwe. Die kinderhuis steun swaar op goedhartiges se skenkings.

Om self ’n inkomste te skep, verkoop die tehuis koekies, beskuit en gekookte etes aan die publiek.

Die jongste kind is ’n sewe maande oue baba en die oudste is 18 jaar.

Die vol kosstoor maar binnekort is dit weer leeg. Foto: Deon Raath

Die kinders woon in 15 huise op die perseel wat stuk-stuk opgeknap word. Ou pype en warmwatertoestelle moet onder meer vervang word. Toe die kinderhuis in 1959 gebou is, het Gé Korsten nog die elektriese bedrading gedoen, sê Van der Merwe.

Die skoolgaande kinders in die kinderhuis is in tien skole in die streek. Toe die skole aanvanklik massas werk vir die kinders huis toe gestuur het, was rekenaartegnologie ’n groot probleem.

’n Donateur het toe tien nuwe rekenaars geskenk omdat die oues nie vir virtuele klasse gebruik kon word nie. Al drie die matrieks van laas jaar het geslaag en studeer nou.

Die naaste twee beddens het nuwe beddegoed wat kinders gekoop het met die geld wat ‘n weldoener uit sy erfporsie aan die kinderhuis geskenk het. Foto: Deon Raath

Geen kind in die kinderhuis het tot dusver Covid-19 opgedoen nie. Ses personeellede was wel al siek.

Elize Sauer, die kinderhuis se bestuurder van maatskaplike dienste, sê weens die talle beperkings is maatskaplike werkers verhinder om betyds in te gryp in situasies waar kinders weerloos was. Die verwydering van kinders uit gevaarlike situasies het weens die inperking bykans gaan stilstaan. Intussen kon ’n beperkte aantal maatskaplike werkers wel 30 kinders in die kinderhuis laat opneem.

In briewe wat die kinders tydens die inperking vir die kinderhuisbestuur geskryf het, kom hul geborgenheid na vore.

’n Twaalfjarige seun het geskryf: “Ek is dankbaar vir al die boere se hulp.”

’n Seun oefen sy tafels op Kobus Swanepoel se rekenaar. Swanepoel is die huisouer van huis Boekenhout op die perseel van die Abraham Kriel-kinderhuis in Modimolle. Foto: Deon Raath

’n Meisie se brief lui: “Ek is baie dankbaar dat ek ’n bed het om in te slaap. Ek is ook baie bly dat ek veilig is in die kinderhuis. En dankie vir tannie Ronel en tannie Judith vir die lekker kos wat ons elke dag kan eet.”

Nog ’n meisie het geskryf: “Dankie vir die omgee, dankie vir die liefde. Dankie vir die lekker goed wat ons kry, want daar is baie kinders daarbuite wat dit nie kry nie.”

Meer oor:  Modimolle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.