
Yves Kadilo, Enock Mpianzi se broer, staan Dinsdag buite die Nyati-oord naby Brits.
Die Menseregtekommissie het sy skok uitgespreek dat hy Dinsdag toegang tot die Nyati-oord buite Brits in Noordwes geweier is.
Buang Jones, die MRK se Gautengse woordvoerder, het gesê die bestuur van die oord het Maandag bevestig dat hulle toegelaat sal word.
Met die MRK se aankoms Dinsdag by die oord is hulle egter meegedeel dat die bestuur intussen besluit het om eers regshulp in te win voordat die kommissie die eiendom mag betree.
Jones het die familie van Enock Mpianzi (13) na die oord vergesel. Die seun het verlede Woensdag in die oord verdrink terwyl hy op ’n skoolkamp van die Parktown Boys’ High School in Johannesburg was. Sy lyk is langs die Krokodilrivier in die oord gevind.
“Ons het die volste reg om hier te wees en die praktyke hier te ondersoek. Ons het ook intussen verneem dat nog ’n kind tien jaar gelede ook in Nyati dood is, en ons gaan die praktyke hier beslis onder die aandag van die departement van toerisme bring,” het Jones gesê.
Hy het gesê die familie wou Dinsdag foto’s neem vir hul familie in die Demokratiese Republiek van die Kongo sodat hulle berusting kan vind.
Jones is ook deur die polisie vergesel “om ons veiligheid en die veiligheid van die familie te verseker”.
Hy het gesê hulle sal nie die eiendom verlaat nie en oorweeg dit selfs om indien nodig oor die hek te klim. Hulle het vir die oord se bestuur gewag om op te daag.
Enock se familie wou nie op die toneel met die media praat nie.

Die Menseregtekommissie se Gautengse woordvoerder, Buang Jones, staan die media Dinsdag buite die Nyati-oord te woord.

Familielede van Enock Mpianzi, onder wie sy ma, Anto, daag Dinsdag by die oord op.