Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oorlewende van Napier-ongeluk weet nog nie ander is dood

Lionel Bitterhout (58), die enigste oorlewende van die ongeluk Paasmaandag by Napier waarin agt mense dood is, is steeds onder verdowing.

Hy weet dus nog nie dat sy oom, vriend en nog ’n hele gesin in die tragiese ongeluk uitgewis is nie.

Lionel Bitterhout (58) is in ’n ernstige toestand in die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad.

Bitterhout se seun, Lee-roy (26), het Vrydagoggend gesê sy pa is steeds in die hoësorgeenheid van die Netcare Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad.

“Ons kon nog nie vir hom sê wat gebeur het nie,” sê Lee-roy.

Jan Bitterhout (86) en Ralph Roux (58) was die twee passasiers in die bakkie wat deur Bitterhout bestuur is. Jan word Saterdag om 08:30 vanuit die Zion-kerk in die Paarl begrawe.

Bitterhout is steeds aan ’n ventilator gekoppel en word onder verdowing gehou. Volgens Lee-roy kan sy pa moontlik Dinsdag geopereer word. Dit sal die eerste van talle operasies wees wat hy nodig het.

Bitterhout, ’n werknemer van die konstruksiemaatskappy Haw & Inglis, het breuke aan albei sy heupe, sy borskas en ribbes, asook een enkel.

“My pa is nou buite lewensgevaar, maar die operasies wat beplan word, kan sy lewe eis. Dit is ’n hele proses en die dokters wil nie net aan hom sny nie. Sodra hy ingaan, is daar die moontlikheid dat hy kan sterf,” sê Lee-roy.

Hy sê sy pa het Maandag net ná die ongeluk gevra waar sy oom en vriend is. Dit was sy laaste woorde voordat hy per helikopter na die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal gevlieg is.

Oor bewerings dat daar ’n Castle Light-bierblikkie voor in die wrak van sy pa se bakkie gekry is, sê Lee-roy daar is nie sprake daarvan dat sy pa gedrink en bestuur het nie. Bitterhout se bloed is getoets en geen alkohol is in sy liggaam gevind nie. Wat ook al in die bakkie was, was rommel van die naweek, sê Lee-roy.

Lionel Bitterhout (58) en sy seun, Lee-roy (26). Foto: Verskaf deur Lee-roy Bitterhout

Kapt. FC van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die polisie het ’n saak van strafbare manslag geopen en ondersoek die ongeluk.

Van Wyk het bevestig die ongeluk het Maandag omstreeks 12:45 op die R316-pad naby Napier plaasgevind en dat dit volgens verskeie verslae ’n botsing reg van voor was.

Die ses mense wat op slag dood is in die tweede voertuig, ’n Fortuner, is Mike (Manna) Newman (53) en sy vrou, Zelda (50), hul dogter Chanté (21), asook Mike se ma, Hazell Newman (77), en Zelda se ouers, die egpaar Johan (85) en Maria (84) Pieterse.

Die Newman-egpaar se dogter, Marzell (24), is met dié ongeluk wees gelaat nadat haar hele gesin uitgewis is.

Meer oor:  Lionel Bitterhout  |  Ongeluk  |  Napier-Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.