Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oorskot in veld: Recolin se ouers smeek om antwoorde

Die ma van ’n vermiste negejarige seun hoop DNS-toetse kan bevestig dit is haar kind se oorskot wat in ’n veld in Port Elizabeth gevind is.

“Dit is verskriklik moeilik, maar nou wil ek dit net oor en verby hê. Ek kan nie langer elke dag hoop en nie weet nie,” het Chriszelda Witbooi Maandag in haar huis in Barcelona, naby Gelvandale, gesê.

Recolin Witbooi (9) Foto: Verskaf

Haar seun, Recolin, word sedert 6 Julie vermis.

Hy is dié oggend laas gesien terwyl hy saam met maats in ’n kloof in die omgewing gaan visvang het.

Verskeie soektogte deur die polisie en gemeenskapsgroepe was onsuksesvol.

Sondagoggend het ’n man en sy hond op die oorskot van ’n kind in ’n veld by Uitbreiding Ses tussen Gelvandale en Malabar afgekom.

Chriszelda sê die klere wat by die oorskot was, is dié van haar vermiste seun.

“Sy swart kappiebaadjie, wit Nike-tekkies en swart broek het daar gelê. Ek glo dit is my kind – waarvan daar net wit, kaal bene oor is. Daar is nie eers meer ’n stukkie vel nie,” het Chriszelda huilend gesê.

Bykans drie maande lank het Recolin se ouers, Chriszelda en Clive, dag en nag vasgeklou aan die hoop dat iemand hul kind lewend huis toe sal bring.

“Dit moet my kind wees. Hy sal dit nooit aan my doen om sommer net weg te loop nie, ons was te naby aan mekaar daarvoor,” sê Chriszelda.

Clive sê hy glo dit is net ’n formaliteit vir die polisie om te bevestig die oorskot is dié van Recolin. “Ons hoop dit kan net vinnig gebeur, die saak moet prioriteit wees,” sê hy.

Die polisie in die veld by Uitbreiding Ses tussen Gelvandale en Malabar, waar die oorskot Sondagoggend gevind is. Foto: Cara-Lee Dorfling

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder, sê die polisie sal ’n lykskouing en DNS-toetse doen om die oorskot te identifiseer.

Chriszelda sê die polisie het hulle aangeraai om op die uitslae te wag voordat ’n begrafnis gereël word.

Sy was Sondag by die werk toe sy die nuus ontvang van oorskot wat binne loopafstand van hul huis ontdek is.

“Daardie is nie ’n vlak waar hy gespeel het nie. Dié kant, by die kloof, is waar hy gespeel het,” sê Chriszelda.

Recolin se ouers meen hy is elders vermoor en sy oorskot is die afgelope week in die veld gestort.

“Die beendere is nou wel ’n entjie van die voetpad af gekry, maar daar is so baie mense wat elke dag deur daardie veld stap. As hulle hom nie gesien het nie, moes hulle darem iets geruik het, maar daar was niks,” sê Chriszelda.

Clive meen die soektog na Recolin wat die afgelope week met hernude ywer aangepak is, is moontlik die rede waarom die oorskot in die veld gelaat is.

“Iemand het bang geraak vir die druk met die nuwe soektog,” sê Clive.

Marie Hammond, ’n familievriend en gemeenskapslid, sou Maandagmiddag saam met gemeenskapslede na die toneel terugkeer om vir leidrade te soek.

“Die bene was so wyd verspreid en daar is so baie bene wat vermis word. Die geraamte is nie volledig nie. Ons moet kyk, dalk is daar nog leidrade.”

Hammond sê sy beoog om binnekort ook ’n vergadering met gemeenskapslede byeen te roep en mense aan te moedig om enige misdaad of verdagte mense aan te meld.

“Recolin is die derde kind van ons gemeenskap wat ’n slagoffer is. Mense kan nie langer stilbly nie, ons moet praat. Want hier is ’n siek monster onder ons en dit kan nie langer so aangaan nie.”

Die polisie het ’n geregtelike doodsondersoek geopen.

Meer oor:  Recolin Witbooi  |  Chriszelda Witbooi  |  Gelvandale  |  Port Elizabeth  |  Soektog  |  Vermis  |  Oorskot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.