Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oorwin jou Everest, sê blinde wêreldkampioen

“Klim jou Everest uit en oorwin hom. Gestremdheid hoef nie ’n stok in die wiel van sukses te wees nie.”

So het Ernst Conradie (45), ’n feitlik blinde wêreldkampioen-gholfspeler met slegs 6% sig, Donderdagaand voor sowat 700 gaste op die Martie du Plessis-skool se jaarlikse Aand van die Sterre-byeenkoms in Bloemfontein gesê.

Op die Hoërskool Martie du Plessis se 17de Aand van die Sterre-geleentheid. Ernst Conradie, gesiggestremde wêreldgholfkampioen (vierde van links) was die spreker. Van links is GP van Rheede van Oudtshoorn, seremoniemeester wat ook saam met sy orkes, It takes Four, opgetree het, Wendy Lategan, sport-en-bemarkingsbeampte van die skool, Elmarie Prinsloo, voorsitter van die skool se beheerraad, Francois van Heerden, skoolhoof, en Johan Grobbelaar, wat die geleentheid as konsultant en oud-onderwyser van die skool organiseer.Foto: Marietjie Gericke

Sport en ’n ysere wil het hom vlerke gegee sodat hy nasionale kleure in krieket én gholf vir blindes behaal het.

Hy het egter in vyf sportsoorte vir blindes provinsiale kleure verwerf: atletiek, krieket, gholf, swem en doelbal.

Conradie, wat op Sishen in die Noord-Kaap gebore is en in Bloemfontein grootgeword het, het tot gr. 6 aan die Laerskool Jim Fouché skoolgegaan toe hy weens die oogsiekte Starcardts feitlik heeltemal blind geword en net 6% sig behou het.

“Ek is in 1992 na die Prinshof-skool vir swaksiendes in Pretoria,” vertel hy.

Ná matriek het hy ’n beurs van Krieket Suid-Afrika gekry om sportbestuur aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou Universiteit van Johannesburg) te studeer waar hy ’n graad in sportbestuur verwerf het.

Conradie sê hy het aanhou krieket speel en het in 2005 president van Blinde-krieket Suid-Afrika geword.

In 2006 het hy die eerste gesiggestremde geword wat ’n vlak 1-sertifikaat vir krieket-afrigting verwerf het.

In 2010 het hy die Midmar-myl geswem en die afdeling vir gesiggestremdes gewen.

In 2014 het hy begin gholf speel. “My eerste groot gholftoernooi was die Suid-Afrikaanse ope toernooi vir gestremdes in 2014.”

Hy het sommer gou opgang gemaak en in 2015 het hy in Lancaster, Engeland, aan die Britse gholftoernooi vir blindes deelgeneem waar hy onder die wêreld se top-15 gesiggestremde spelers geëindig het, sê hy.

“Om as gesiggestremde aan gholf deel te neem, moet jy ’n gids hê wat aan jou kan verduidelik waar die putjie is. Jy word ook toegelaat om met jou voete te voel hoe die baan lyk waarop jy na die putjie moet slaan, of dit teen ’n op- of afdraand is en hoe ver dit van jou af is,” sê hy.

Hy sê die gids beheer die blinde gholfspeler heeltyds. “Hy sê vir jou draai ’n bietjie links of regs, terwyl ’n GPS ook gebruik word om die afstand te bepaal.”

Conradie sê in 2016 en 2018 was hy in die Suid-Afrikaanse gholfspan vir blindes wat aan wêreldbeker-byeenkomste in Japan en Italië deelgeneem het.

Hy het vanjaar aan die ope gholftoernooi vir blindes in Amerika deelgeneem en sewende geëindig.

Conradie sê hy sien geweldig uit na die wêreldbeker-gholfkampioenskap vir gesiggestremdes wat aanstaande jaar in Kaapstad gehou word.

Maar van 25 tot 27 September is hy eers vir ’n toernooi in Glendower, Johannesburg, op die baan.

Ernst se vrou, Anne, kan nog minder as hy sien. Sy het net 2% sig en werk by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Die egpaar het twee kinders, Megan, wat nou in matriek aan die Hoërskool Goudrif in Johannesburg is, en ’n seun, Zander, in gr. 8 aan die Hoërskool E.G. Jansen in Johannesburg. Nie een van hulle het sigprobleme nie.

Meer oor:  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.