Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oos-Kaapse motorfietsryer sterf na hy met bakkie bots

Minstens 16 mense is die afgelope naweek in verskillende ongelukke op Oos-Kaapse paaie dood.

In die nuutste voorval het ’n pa van twee jong meisietjies gesterf nadat sy motorfiets Saterdagaand met ’n bakkie op die N2 in Port Elizabeth gebots het.

Só lyk die bakkie nadat dit Saterdagaand met Jason Joshua se motorfiets gebots het.Foto: Verskaf

Jason Joshua, wat gereeld aan motorfietswedrenne deelgeneem het, is op die toneel dood en sy motorfiets het aan die brand geslaan.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, ’n polisiewoordvoerder, sê ná die impak het die bestuurder van die wit Toyota-bakkie beheer verloor en aan die ander kant van die snelweg in die rigting van aankomende keer beland.

Volgens Charles Bramwell, ’n verkeerswoordvoerder, het die bakkie die versperring in die teenoorgestelde baan getref. Die motorfiets het omgeslaan en onherkenbaar verbrand.

Albei was glo vanuit die rigting van Blue Water Bay na Port Elizabeth op pad.

Die bakkie se twee insittendes is na ’n plaaslike hospitaal geneem. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek. Medelye het op sosiale media ingestroom vir Joshua se vrou, Udine, en hul twee kinders. Greg Moloney het ’n roerende video op Facebook geplaas waar talle renjaers Sondag by die Kyalami-renbaan bymekaar gekom het om as ’n huldeblyk aan Joshua te ry. Hy het huilend vertel van die emosionele atmosfeer wat daar heers. “Hierdie is net nie ’n goeie dag nie,” het hy gesê en sy trane afgevee.

Só lyk die toneel waar vyf mense Saterdagaand dood is ná ’n botsing op die N10 tussen Cradock en Port Elizabeth. Foto: Verskaf

* In ’n aparte voorval is vyf mense Saterdag omstreeks 19:00 dood nadat ’n motor en vragmotor by die Eastpoort T-aansluiting op die N10 tussen Cradock en Port Elizabeth gebots het. Luidens ’n verklaring wat deur die Oos-Kaapse LUR vir vervoer en veiligheid, Weziwe Tikana, uitgestuur is, het die motorbestuurder na bewering versuim om by ’n aansluiting stil te hou en met die kant van die vragmotor gebots. Vier insittendes is uit die motor geslinger en een is vasgekeer. Die vragmotor het ná die impak omgeslaan.

Jason Joshua en sy vrou, Udine. Foto: Facebook

* Nog vyf mense is Saterdagoggend in die middernagtelike ure op die R411 naby Koffiebaai dood toe ’n bakkie omgeslaan het. Twee mans is op die toneel dood en drie ander het in ’n plaaslike hospitaal gesterf. ’n Onbekende getal insittendes is ook met ligte beserings hospitaal toe geneem.

* Tydens nog ’n voorval, in Bambisanaweg naby Lusikisiki, het ’n bakkie en minibustaxi met 16 insittendes Vrydagaand reg van voor gebots. Vier mense is op die toneel dood, agt ernstig beseer en vier het ligte beserings opgedoen. Die bakkie se twee insittendes is ook ernstig beseer.

* ’n Voetganger is dieselfde aand op die N2 buite Mthatha dood nadat sy deur ’n Hyundai-motor getref is. Luidens ’n verklaring het die voetganger op die sypaadjie geloop en is sy getref nadat die bestuurder beheer verloor en die motor van die pad geloop het.

Tikana het haar skok en hartseer oor die sterftes uitgespreek en haar medelye aan die oorledenes se families oorgedra. Sy het ook diegene wat in die hospitaal is, ’n spoedige herstel toegewens. “Ons doen ’n verdere beroep op ons motoriste om ekstra versigtig te wees,” het sy gesê.

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Motorfietsryer  |  Ongelukke  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.