Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Op 74 ontvang sy MA-graad cum laude
Elizabeth Ann Robertson. Foto: Verskaf

Sy kon dit nie vir langer as drie maande uithou om naby die kampus te woon nie, maar Elizabeth Ann Robertson kon op 74-jarige ouderdom wel ’n MA-graad cum laude behaal.

Robertson het Donderdag haar MA-graad in antieke kulture in die fakulteit lettere en sosiale wetenskappe cum laude by die Universiteit Stellenbosch (US) se Coetzenburg-sentrum ontvang.

Sy het iets gesoek om haar besig te hou nadat haar man in 2010 oorlede is.

’n Paar jaar daarna het sy na ’n woonstel in Stellenbosch getrek, maar die woonstel was bedoel vir studente. “Ek kon dit net drie maande daar uithou. Die studente in die gebou is gedurig aan die gang en dit was vir my moeilik om so te leef,” sê sy.

Dié diplomatieke beampte is oorspronklik van Engeland maar het op 23 Afrika toe gekom. Sy het in die Britse kantoor vir buitelandse sake gewerk en toe sy na Lesotho verplaas is, het sy haar man daar ontmoet.

Ná sy afsterwe het Robertson na Somerset-Wes getrek waar haar dogter en gesin woon.

“Ek het geweet dit sal nie regverdig wees om na hulle te kyk vir ’n sosiale lewe nie. Ek het geweet ek moes iets doen,” sê sy.

In dié tyd het sy ’n koerantadvertensie gesien vir die nagraadse diploma in antieke kulture by die departement antieke studie aan die US. Sy het aansoek gedoen en is aanvaar. Toe die kursus in 2014 ten einde loop het sy egter gewonder wat om daarna te doen, sê Robertson. Dit is toe dat sy met haar meestergraad-studie begin het.

Ek kyk nie televisie nie. Ek het nie eens ’n televisie in my huis nie. Ek lees.

Die onderwerp van haar MA-verhandeling is “Om groot te word as ’n Griek: Die uiteenlopende reise deur kindertyd in antieke Athene en Sparta.”

“Ek het nooit, ooit gedink ek sou ’n meestersgraad kon behaal nie. Ek moet ook sê ek sou nooit die graad kon voltooi het as dit nie vir my toesighouer, dr. Samantha Masters, was nie. Sy was ongelooflik en het my aan die gang gehou. My twee kinders het my ook aangemoedig,” sê sy.

Robertson het nog geen planne om met ’n doktorsgraad voort te gaan nie. Sy sê dat die vorige jaar toe sy haar verhandeling voltooi het, baie moeilik was. Nou wil sy haar vrye tyd geniet en lees.

“Ek kyk nie televisie nie. Ek het nie eens ’n televisie in my huis nie. Ek lees,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.