Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Op 95 bestuur oom Jannie nog lekker

Op 95 voel oom Jannie Minnaar hy het nog baie myle in hom. Hy het pas sy rybewys by die munisipaliteit van Middelburg in Mpumalanga gaan hernu.

Oom Jannie Minnaar in sy motorhuis. Foto’s: Deon Raath

“Ek het in die ry gestaan by die munisipaliteit. Toe ek vyfde van voor af is, sien ek ’n kennisgewing dat ek my ID moes saambring. Ek gaan haal dit toe in my kar, maar toe ek weer binnekom wil hulle hê ek moet weer agter in die ry gaan staan,” sê oom Jannie.

’n Barmhartige samaritaan het dit gesien en oom Jannie na die voorkant van die ry geneem en aangedring dat die klerk die senior burger help.

“Die vrou wou toe weet of ek ouer as 85 is. Ek sê toe vir haar ek is ja, tien jaar ouer, en toe vra sy vir ’n doktersertifikaat.

“Die dokter het gesê hy wens hy het my hart en my bloeddruk in sy eie lyf gehad.”

Oom Jannie spring op. Hy staan reguitbeen en raak met sy hande aan die grond tussen sy voete.

“Kan jy dit doen? Ek doen ook elke oggend 25 pushups, so ek is so gesond soos mense die helfte van my ouderdom.”

Oom Jannie Minnaar in sy 46ste motor, ’n Honda Jazz.

Sy vrou van die laaste 33 jaar, Rieks (75), val hom in die rede: “Ag man, hou op met jou gepushup. Dis nie regte pushups wat jy doen nie.”

Oom Jannie lag. “Wil jy armdruk?” vra hy vir tannie Rieks.

Sy eerste rybewys het hy tydens die Tweede Wêreldoorlog gekry.

En Middelburg self ken oom Jannie maar te goed.

“Toe my voorouers hier kom bly het, was hier nog net 17 woonhuise in die dorp. Mens kan maar sê Middelburg het om die Minnaars gegroei,” lag oom Jannie.

Die minibustaxi’s in Middelburg se strate is vir hom die grootste uitdaging op die pad.

“Ons het ’n pad uitgewerk mall toe. Dan kry mens eers taxi’s net voor jy daar aankom.”

Oom Jannie Minnaar wys hoe hy steeds noukeurig boek hou van sy motor se petrolverbruik.

Sy oë glinster as hy oor karre praat.

“My oorlede pa het net in Fords geglo, maar ek het oor die laaste 73 jaar 46 verskillende karre besit.”

Sy eerste kar, ’n Opel Olympia 1.3l, het hy in 1946 vir £180 gekoop. Op die nommerplaat was TU 3224.

Sedertdien het Ford (6), Volks­wagen (6), Mercedes (5), Opel (4), Nissan (4), Chevrolet (4), Honda (6), BMW (2), Austin (2), Renault (2), Citroën, Hudson, Jaguar, Mazda, Packard en Landrover almal ’n draai in oom Jannie se motorhuis gemaak.

Sy gunsteling?

“Die Renault Scenic 1.9 liter diesel,” sê oom Jannie. Hy was veral gek oor al die sluitkassies en bêreplekkies.

“Dan was daar die Packard straight 8. Wat ’n kar,” sê hy droomverlore.

Oom Jannie het BSc by Tukkies studeer, maar later myne toe gegaan omdat sy familie gemeen het hy mors sy tyd. Hy was later ’n landmeter, ’n onderwyser en vir ’n rukkie ’n laerskoolhoof.

Toe hy 80 was, het hy dit oorweeg om te gaan leer om ’n dominee te word. Maar toe hoor hy sal tussen die kinders moet gaan sit en leer by Tukkies, “toe tree ek maar af”, sê oom Jannie.

Op pad na Rapport se voertuig stop oom Jannie dood in sy spore. “Ek het nie eens gevra of julle manne wil armdruk nie? Toe ek destyds vir Randburg rugby gespeel het – senter of vleuel – het ons altyd ná die wedstryde armgedruk. Ek het nooit vir ’n bier betaal nie,” spog hy.

Layton Beard, ’n woordvoerder van die AA, sê daar is geen ouderdomsbeperking vir motorbestuurders in Suid-Afrika nie.

“As die oom se reaksietyd en sig nog goed genoeg is, het ons geen probleem daarmee dat hy nog bestuur nie,” sê Beard.

Meer oor:  Bejaardes  |  Rybewys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.