Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Op ’n Vrydagaand in Afrika

As grotes hier tennis speel, koop jy nie aarbeie en room nie, maar biltong en bier, skryf Tinus van Staden.

Rafael Nadal en Roger Federer laat waai Vrydag in die Kaapstad-stadion. Foto’s: Edrea du Toit

Dis 17:30. “Suckeeeers, suckeeeers!” skree ’n vrou wat roomys in die geroesemoes verkoop. “Pepsi maak jou sexy!” probeer ’n ander een koeldrank in die hitte verkwansel. In die breë betongange van die Kaapstad-stadion ruik jy braaivleis. Doodnormaal vir ’n laatsomer-Vrydagmiddag in Suid-Afrika.

Maar daar’s niks gewoons aan vanaand nie. Elke tweede mens wat wag om ’n Stella Artois-bier of ’n boerie-rol by een van die kiosks te kry, dra ’n hemp of ’n keps of ’n kopband waarop ’n Rafael Nadal-, Roger Federer- of Match in Africa-kenteken pronk.

Die twee grootste geeste in manstennis is hiér. Iewers in die buik van die tamaai stadion. Later sal hulle hul talente vir die eerste keer ooit op Afrika-bodem teen mekaar uitstal. Eers in ’n dubbelspelwedstryd saam met Bill Gates en Trevor Noah, sekerlik die tenniswedstryd tussen die rykste vier mense tot nog toe.

‘Ek kan nog Afrikaans praat.’

Maar voor dit gebeur, drink die toeskouers die atmosfeer in. ’n Ry om in te kom by ’n Nike-winkel wat Rafa-klere en -kepse verkoop, krul om een van die sta­dion se kurwes. Die getal toeskouers sal later swel tot 51 954, die meeste nóg by ’n tenniswedstryd.

Hier’s geen aarbeie en room soos by Wimbledon nie, hier koop jy biltong en bier. Hier dra die mense snaakse uitrustings met klein tennisballetjies vir hoede en sweetbande om hul gewrigte en voorkoppe. Oral hoor jy Afrikaans. Ja, dis groot tennis in Afrika.

As Mmusi Maimane wat verby jou stap terwyl jy in die bierry staan dit nie tuisbring nie, doen die Ndlovu-jeugkoor dit met uitvoerings van “African Dream” en “Africa” op die rooibruin hardebaan. Dis 19:15 en die dubbelspel gaan amper begin. Percy Montgomery staan ook nog in die ry en Brendan Venter en sy vrou skarrel in die gang verby na hul sitplekke.

Rafael Nadal

Die geraasvlakke styg gevaarlik hoog soos eers Federer en Gates – oftewel Team Gateserer – en daarna Rafa en Noah na die middel stap. Dis daai gejuig wat jou hoendervleis gee. “Ja, dié’s glad nie bad nie,” sê ’n vrou vir haar vriendin. Dit raak nog beter.

In ’n netjiese groen bloes stap Lynette Federer, oorspronklik van Kempton Park, na die middel. Afrika is lief vir sy eie kinders. Roger se ma kry byna ’n luider toejuiging as hy. Toe sy oor die mikrofoon sê: “Ek kan nog Afrikaans praat,” vorm sy die r-klanke met ’n mond so Afrikaans soos melktert. Die Kaapstad-stadion gil so hard jy kan nie ’n verdere woord hoor nie.

Gateserer wen die enkele stel van die dubbelspelwedstryd met 6-3. Noah se afslane is nie te watwonders nie, maar niemand gee om oor die uitslag nie. “As ek meer as hierdie een raket gehad het, het ek hom stukkend geslaan!” kasty hy speel-speel die skeidsregter nadat ’n fout geroep is. “Hawk eye!” vra hy en kry dit, net om te sien die bal was gemaklik twee meter uit. Hy maak asof hy ’n vuvuzela blaas en die toeskouers lag, maar hulle is gereed vir die ware Jakob.

Die tennisspelers poseer in vrolike luim saam met uitbundige kinders ná hul kragmeting.Foto: getty images
Trevor Noah: grappies op ’n stokkie.

20:20. Montgomery gaan koop nog drie biere en is net betyds terug om te hoor hoe die aankondiger vir Rafa vra om vir ons “ ’n bietjie van daai vamos” op die baan te wys, wat ook al dit beteken.

Dis tyd vir die loot en wie anders as baie mense se versinnebeelding van eenheid en hoop in die land, Siya Kolisi, kom uitgestap . . . Hy oorhandig ’n Springbok-nr. 8-trui aan Federer, wat dit oor sy kop trek. Kolisi doen ’n onderhoud terwyl Federer – in sy Springbok-trui – en Rafa litte losmaak.

Die wind waai verwoed en bemoeilik balbeheer, maar die eerste stel lewer minstens een mooi sarsie houe op. Rafa speel met ’n glimlag, maar Federer vat die eerste stel met 6-4 nadat hy in die eerste pot deurgebreek het. Tussendeur por die kiss-cam die oud-Bok-kaptein John Smit aan om sy vrou (kom ons hoop dis sy) ’n soentjie te gee.

Roger Federer kry ’n drukkie en Springboktrui by Siya Kolisi voordat sy wedstryd teen Rafael Nadal begin het, Foto: Jaco Marais

Federer en Nadal moedig ’n moewiese Mexikaanse golf aan en gee in die tweede stel elk hul rakette vir ’n baljoggie. Nadal beklink die tweede stel 6-3 en trakteer toeskouers met een sommerso-agterom-die-skouer-hou.

“Shosholoza” klink op en die tennisspelers klap hul hande ritmies saam in ’n derde stel waarin Federer die wedstryd beklink (6-4, 3-6, 6-3). Maar die uitslag maak nie saak nie.

$3,5 miljoen is vir Federer se liefdadigheidsorganisasie ingesamel, wat fokus op onderwys in Afrika-lande.

Roger Federer

Die Ndlovu-jeugkoor sluit die aand af met nog ’n uitvoering en vuurwerke reik na die hemel. Die sterre op die baan poseer vir foto’s saam met die baljoggies en Ndlovu-lede. Hulle dans en lag en spring almal saam rond. Die kamera wys vir Lynette Federer. Sy jive op Miriam Makeba se “Pata Pata” terwyl haar wêreldberoemde seun en sy groot vriend-vyand Rafa drukkies vir kinders uitdeel. Alles op ’n Vrydagaand in Afrika.

Meer oor:  Trevor Noah  |  Roger Federe  |  Rafael Nadal  |  Kaapstad  |  Liefdadigheid  |  Tennis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.