Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Operasanger bad nou honde

As jou malteser nie mal is oor bad nie, kry hy dalk net nie genoeg Mozart daarmee saam nie.

Masakhane Sotayisi was sy hond, Tracy. Foto: Edrea du Toit

Die Covid-19-inperkings het die Kaapse operasanger Masa­khane Sotayisi (31) wel gekeer om die wêreld vol te reis soos hy gewoond is, maar nou is sy buurt se honde darem baie skoner danksy die dierewassery wat hy begin het.

Dié tenoor het self drie honde – Roxy, Lucy en Tracy. In gesprek met sy broer, Zukile (26), het hy besef daar is op byna elke erf in hul straat in Mandelapark, Khayelitsha, ’n hond wat selde gewas geword.

Om te keer dat sy honde infeksies opdoen, het hy dit goedgedink om ander honde te was. Dit sou boonop goedkoper uitwerk as hy die skoonmaakprodukte in groot maat aanskaf, sê Sotayisi.

‘Ek wil nie gou stop nie. Wat ek wil doen, is om uit te brei.’

Op ’n warm somersoggend in Februarie het hy sy ma gevra of hy die ou bad op hul erf vir sy ediphini (dierewassery) kon gebruik.

Aanvanklik het hy R10 per hond gevra, maar dit later tot R20 verhoog.

“Dit het baie goed gegaan. Die mense het gesê ek moet dit meer doen. Hulle het selfs na die ander strate gegaan en gesê ‘bring jou honde’ en mense het gekom!” sê Sotayisi.

Mettertyd het hy besef dae later verskyn daar weer makalanes (bosluise) op die diere se pels. “Wat het ek gemis?” het hy homself afgevra. Dit het nou nie meer vir hom bloot gegaan oor om die honde te was nie, maar ook om hulle in alle aspekte te versorg.

Sotayisi as operasanger.

“Daarom het ek besluit dat ek met sjampoe moet was en ek moet ook ander produkte hê om seker te maak dit help om die hond se immuniteit te bevorder. Soms as jou hond te vuil is . . . of as hy wonde het, het ek ook spuitstof waarmee jy die honde moet spuit om vinnig te herstel.”

Dis nie altyd pret om die diere te versorg nie. Die broers het uitgevind sommige honde is nog nooit vantevore gewas nie en raak aggressief as daar aan hulle geraak word.

“Die verhouding tussen die eienaar en die hond is baie belangrik. Dit maak dit vir my maklik. Ek vra die naam, want dit is een ding wat baie belangrik is vir die honde. Hulle is soos mense. Jy kan nie net aan my raak as jy nie eers my naam ken nie. So ek sal net sê ‘hallo, Bobby’ en aan sy ore sien of hy vriendelik is. Jy kry ander honde wat net wag dat jy uitreik en dan sal hulle jou byt.”

Selfs mense van omliggende townships bring hul honde nou na Masakhane’s Pet Wash. Dis nou elke week van Maandag tot Saterdag oop. Soms word daar ook op Sondae daar aan sy deur geklop.

“Ek sal sê ek is nie oop nie, maar as jy meer as vier honde sien, watter keuse het jy? Jy moet dit net doen. Ons kan mense nie wegwys nie, want ons is nou ’n naam.”

En as die wêreld een dag weer oopmaak, sal die onderneming voortleef?

“O ja, ek wil nie gou stop nie. Wat ek wil doen, is om uit te brei. Ek wil hê dit moet ’n volledige onderneming wees. Ek wil hê my gemeenskap en die gemeenskappe naby aan my moet besef dit is ’n belangrike [verantwoordelikheid] om ’n troeteldier te besit.”

Meer oor:  Masa­Khane Sotayisi  |  Opera
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.