Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Operasie op Marlu (8) suksesvol ná hoewe-aanval
Marlu Coetzee net ná sy operasie Vrydagoggend.

Klein Marlu Coetzee het nou “plaatjies en skroefies en sy neusie is mooi terug op sy plek”, sê dié agtjarige slagoffer van ’n hoewe-aanval se ma, Dehlia.

Sy was Vrydagoggend verlig ná die geslaagde operasie wat kort tevore op haar seun se gebreekte neusbeen in die Garden City-hospitaal in Johannesburg gedoen is.

“Die twee groot oop snye op sy voorkop is ook mooi toegemaak. Dit het voor die tyd sommer so oopgevlek. Jy kon been sien as jy daar inkyk,” sê sy as sy oor Marlu se beserings praat.

Maar hoewel sy oë nog te geswel is om mooi te kan sien, lyk haar seun “soveel beter”.

Marlu en sy pa, Mario (47), is Donderdagoggend beseer toe hulle op die pa se hoewe in die Vyfhoek-omgewing in Potchefstroom aangeval is.

Mario het ernstige kopbeserings en bloeding op die brein opgedoen. Hy is steeds in ’n geïnduseerde koma in ’n Potchefstroomse hospitaal.

In dié stadium, sê Dehlia, probeer hulle om hom nie te vertel hoe ernstig Marlu beseer is nie.

“Ons weet nie of sy gestel dit nou sal kan hanteer nie. So, sy ma sê as hy elke nou en dan wel sy oë oopmaak en vra oor die kinders, dan sê sy net hulle is by my en oukei.”

Mario se ma, Nellie Coetzee, is ook in die aanval beseer. Sy moes agt steke kry nadat een van dierowers haar oor die kop geslaan het. Sy en haar man, Paul, woon ook op die hoewe.

Dehlia het Vrydag gesê haar dogtertjie praat nie eintlik oor die voorval nie.

Marizé (7), Marlu se kleinsus, en haar oupa is nie in die aanval beseer nie.

Dehlia het onlangs ’n rugoperasie ondergaan en Marlu en Marizé het by hul pa gebly sodat dié hulle skool toe kon vat.

Dehlia sê hoewel die kinders nog nie mooi kan sê presies wat gebeur het nie, blyk dit dat die aanvallers ’n kombuisvenster se diefwering oopgebreek en só by die huis ingekom het.

“Die kinders het saam met hul pa op die bed gelê. Mario was op die kombers, maar die kinders onder dit.

“Niemand het die aanvallers hoor inkom nie. Marlu kan nie onthou wat gebeur het of hoe hy geslaan is nie.

“Al wat hy onthou, is dat hy skielik seer gevoel het en sy pappa gesien het. En hy onthou baie bloed,” sê Dehlia.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die ouma het net ná middernag wakker geword van ’n geskreeu. Sy het in die gang afgeloop en ’n onbekende man aangetref.

Dié het Ouma Nellie met ’n flits geslaan en gevlug.

Sy is toe na haar seun en kleinkinders se kamer, waar sy die erg beseerde Marlu en Mario aangetref het.

Sy het hulp ontbied en om 01:12 vir Dehlia gebel.

Dehlia het Vrydag gesê haar dogtertjie praat nie eintlik oor die voorval nie.

“Ek het gister gesien sy is nie lekker nie, so ek het berading vir die kinders gereël,” sê die ma.

Die hospitaal het ook vir haar ’n bed reg langs Marlu s’n gemaak.

“Marizé kon gisteraand in my arms aan die slaap raak, terwyl ons langs boetie se bed gelê het.

“Hierdie personeel is absoluut ongelooflik met ons. Hulle en die paramedikus, Leon Nel, het uit hul pad gegaan om die trauma so min as moontlik te maak,” sê Dehlia.

Meer oor:  Marlu Coetzee  |  Hoewe-Aanval  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.