Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Operasie verbeter seun se lewe

’n Paar rugbyspelers van die Vodacom Bulle het verlede Woensdag vir Adriaan de Jongh (7) by die Laerskool Esperanza in Newlands, Johannesburg, gaan kuier.

Bulletjie, Adriaan de Jongh en Lizo Gqoboka. Foto: Bakonepix

Hoewel Adriaan skynbaar niksvermoedend in sy boek geteken het toe die Bulle se slot Lood de Jager, die stut Lizo Gqoboka en Bulletjie die gelukspop daar opdaag, spog hy dat hy wél van die besoek geweet het.

“My ma het my vertel die Blou Bulle kom vandag en ek was so happy!” sê dié gr. 1-leerling.

Adriaan, wie se ore misvormd was, is onlangs danksy Vodacom en die Smile Foundation se Tries for Smiles-veldtog geopereer.

“Sy oortjies het sedert geboorte soos varkore gelyk,” sê sy ma, Mariaan Britz (32). “Jy weet hoe wreed kinders kan wees. Ek was soms woedend. Dis nie lekker om te hoor die kinders sê vir jou kind hy lyk soos ’n aap nie. Hy was gebroke. Hy was soms in trane,” sê Britz, van Albertville.

Die paar Bulle en Vodacom-lede saam met Adriaan en sy klas van die Laerskool Esperanza.

“Die operasie in die Charlotte Maxeke-hospitaal het vier uur geduur. Ek is glad nie spyt nie. Dit het my kind ’n hupstoot gegee. Hy het nou selfvertroue en die kinders spot hom nie meer nie.”

Die selfoondiensverskaffer skenk al 11 jaar vir die Smile Foundation geld om rekonstruktiewe chirurgie vir kinders met misvormde gesigte te doen. Minstens 2 600 kinders is al met dié stigting se hulp geopereer.

Vanjaar is sy benadering meer persoonlik en die Vodacom Bulle help die kinders om ná die chirurgie by hul omgewing aan te pas.

“Ná die chirurgie word die kinders nog by die skool gespot omdat hulle aan misvormings geken word,” sê Serialong Kolisang, woordvoerder van die veldtog.

“Ons wil seker maak die kinders word ná hul operasie met hul pragtige nuwe gesigte by die skool terugverwelkom. Ons versprei die boodskap dat hulle wonderlike kinders is wat soveel liefde en respek soos die res verdien.

“Dis waarom ons die Bulle hierheen gebring het, om te wys Adriaan is eintlik vriende met dié beroemdes,” verduidelik Kolisang.

Die Bulle het voor Adriaan se operasie reeds ’n verhouding met hom begin bou.

Regs voor is Adriaan de Jongh. Langs hom is sy jonger boetie, Gavin, en agter is sy ma, Mariaan, en sy stiefpa, Nico Britz. Foto: Jeanelle Greyling

“Hulle het hom net voor die chirurgie ontmoet en daarna vir hom in die hospitaal gaan kuier. Adriaan is toe in Mei gekies om tydens ’n rugbywedstryd op die Loftus Versfeld-stadion in Pretoria die jong gelukbringer te wees,” lui ’n verklaring van Vodacom.

“En met die besoek aan die skool help die Bulle sy maats om hom te aanvaar en dit gee vir hom heldestatus onder sy portuurgroep.”

Vir elke drie wat die Bulle in die Superrugbyseisoen druk, skenk Vodacom R3 000 vir die Smile Foundation. Die Bulle het vanjaar 59 drieë gedruk en sodoende R177 000 ingesamel.

Die Stormers en die Leeus neem ook deel aan dié veldtog.

Gqoboka sê dit verskaf hom vreugde om vir ’n groter doel as net vir homself te speel.

“Dit maak my gelukkig om een van die ouens te ontmoet wat deur die projek gehelp is. Dit moedig my aan om beter te speel,” sê hy.

“Ons wil die publiek dien,” sê De Jager. “Dit is wonderlik om ’n klein bydrae te lewer en iemand se lewensgehalte te verbeter.”

Gqoboka, ’n pa van twee, sê dit sou hom seermaak as sy seuns gespot word. “Dis moeilik om jou kind te motiveer om weer te glimlag en hom na dieselfde situasie terug te stuur.”

Meer oor:  Newlands  |  Johannesburg  |  Rugbyspelers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.