Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Opgeleide skeidsregter het geblaas toe seun (15) sterf

Die skeidsregter van die rugbywedstryd waarin Benwill Adelaar (15) beseer is en later gesterf het, het ’n Boksmart-kursus voltooi en die wedstryd het aan die veiligheidsvereistes voldoen.

Benwill Adelaar (15). Foto: Facebook

Só het Cassie Carstens, uitvoerende hoof van Boland Rugby, Maandag gesê toe hy om kommentaar genader is ná gerugte dat die skeidsregter nie opgelei is nie.

Benwill, wat ’n leerling van die Sekondêre Skool Albert Myburgh in Bredasdorp was, is Donderdag in ’n o.15-wedstryd teen die span van die Sekondêre Skool Villiersdorp beseer en het later aan sy beserings beswyk.

Carstens sê skole stel hul eie skeidsregters aan en hulle moet die Boksmart-kursus voltooi het. Dié kursus is op die veiligheid van die spelers gedurende die wedstryde en oefeninge toegespits, sê hy.

Hulle kry ’n Boksmart-kaartjie en -nommer wanneer hulle die kursus voltooi het.

Volgens Carstens maak Boksmart-skeidsregters byvoorbeeld altyd seker dat die spelers in die regte ouderdomsgroep speel. “ ’n 15-jarige speler kan byvoorbeeld nie aan ’n o.19-wedstryd deelneem nie.”

Carstens sê die skoolhoof en personeel wat Donderdag op die toneel was, het hom kort daarna van die voorval in kennis gestel.

Hy sê daar was mediese personeel by die wedstryd wat Benwill onmiddellik bygestaan het.

Volgens Carstens is hartmassering toegepas, terwyl die skoolpersoneel ’n ambulans ontbied het. Die ambulans het binne sowat 10 tot 12 minute opgedaag, sê hy.

“Hy het nog met die mediese persoon gepraat, maar het kort daarna sy bewussyn verloor,” sê Carstens.

Volgens hom het paramedici met hul aankoms voortgegaan om hom te behandel. Daarna is Benwill op ’n draagbaar na die ambulans geneem, waar die behandeling voortgegaan het, sê hy.

Benwill is sowat 10 minute later in die ambulans dood, sê Carstens.

Rugbymaats en omstanders bring hulde aan Benwill Adelaar (15) nadat hy Donderdag in ’n skolewedstryd beseer en later dood is.

“Dit is tragies en nie ’n lekker dag vir Boland Rugby nie. Ons wil ons innige simpatie uitspreek met sy familie en die seuns wat saam met hom gespeel het,” sê Carstens.

Benwill se ma, Elizabeth, het Maandag gesê hulle is reeds besig om begrafnisreëlings te tref, maar ’n datum vir die begrafnis is nog nie vasgestel nie.

Adelaar het voorheen aan Maygene de Wee gesê Benwill is haar kind wat altyd gelag het.

“My vrolike kind. Die een wat ek, vandat hy op hoërskool was, net oor naweke en vakansies gesien het.”

Volgens Carstens word nog vir die uitslae van die lykskouing gewag. In dié stadium word dit as ’n fratsongeluk beskou, sê hy.

Adelaar sê sy verwag die uitslae van die lykskouing teen Dinsdag.

Carstens het Benwill se skool Maandag besoek en met die personeel en leerlinge gepraat. Ivan Pekeur, die president van Boland Rugby, het die skool Vrydag besoek.

Meer oor:  Bredasdorp  |  Skeidsregter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.