Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oplaas ’n plan wat landbou kan ‘red’

Suid-Afrika se laaste hoop met grondhervorming en een van die grootste mylpale nóg in Suid-Afrikaanse landbou. So is die nuwe Agricultural Development Agency (Agda) Dinsdag met die bekendstelling daarvan in Pretoria bestempel.

Opkomende boere en belangstellendes het Dinsdag tou gestaan om hul handtekening by te voeg om deel van die nuwe landbou-agentskap Agda te word.

Agda begin formeel in September funksioneer om “die gesig van landbou in Suid-Afrika te begin verander” deur uiteindelik meer swart, kundige boere en plase te help kweek.

“Daar is nie ’n alternatief nie en dit gáán slaag. Sou dit misluk, gaan grondhervorming misluk, en dan gaan Suid-Afrika misluk,” het die megaboer Nick Serfontein aan Rapport gesê.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het die stigting van die agentskap verwelkom.

Die projek is tot stand gebring met die hulp van oudminister Roelf Meyer se In Transformation Initiative ná Serfontein in Mei 2018 sy “Thuma Mina-brief” aan pres. Cyril Ramaphosa gerig het.

‘Dis belangrik vir swart boere om sekerheid van verblyfreg te hê.’

In sy brief het Serfontein sy begrip vir opkomende boere se stryd sonder staatshulp verklaar en gesê: “Meneer die president, stuur ons . . .”

Serfontein, wie se maatskappy Sernick meer as 550 mense in diens het, het in sy brief aan die president gepleit vir presies dit wat nou gebeur.

“Ek pas reeds die beginsels van hierdie ‘eenstopdiens’ toe in my eie ontwikkelingsprogram vir opkomende boere en dit werk.”

Hy sê die inisiatief het reeds die ondersteuning van al die agri-ondernemings, ’n “groot gros” kommersiële boere, handelsbanke, korporatiewe ondernemings, en so meer.

“Agda gaan in September 2020 operasioneel wees met ’n goeie ondersteuningsbasis, is reeds gefinansier en gaan die teer slaan met spoed. Daar is reeds verskeie lewensvatbare projekte en vennootskappe geprioritiseer wat binne die eerste jaar gaan realiseer.”

Die organiseerders beloof dit gaan die Suid-Afrikaanse landbou oor die volgende dekade verander deur beleggings ter waarde van R25 miljard, 450 000 landelike mense bevoordeel en sowat 30 000 poste skep.

Meyer het gesê die private sektor neem die leiding. “Ons sê daarmee ons sal die regering help om die groeipoten­siaal van die land te bereik. Ons sal ook jaarliks aan die regering daaroor rapporteer en ons het dit die laaste 18 maande suksesvol gedoen.”

Daar word wel van die regering verwag om sekere struikelblokke uit die weg te ruim. Volgens hom is Agda juis ’n uitvloeisel van die direkte wisselwerking met die regering.

“Ons het gesê ons moet ’n nodale punt vestig waar opkomende boere aan die deur kan kom klop en sê hulle het hulp nodig. Terselfdertyd bring ons dié saam wat hulp kan verleen.

“Talle bestaande projekte is reeds aan die gang waar bestaande boere opkomende boere help.”

Van die mynmaatskappye het Agda genader om grond vir landbou aan te bied. Sasol, byvoorbeeld, het grond in die Secunda-area aangebied.

Die meer as 4 000 plase in staatsbesit en ander grond van staatsdepartemente word ook geteiken. Ramaphosa het in sy staatsrede aangekondig sowat 700 000 ha grond in staatsbesit sal vanjaar nog vir landbouproduksie beskikbaar gestel word.

Verdere geld sal op grond van die momentum van die projekte voortdurend ingesamel moet word, sê Meyer.

“Ons is egter ook optimisties oor die potensiaal om geld in die buiteland in te samel om landbou in Suid-Afrika uit te brei.”

Malcolm Ferguson, oudambassadeur en stigterslid van Agda, sê dit wat in die apartheidsdae vir wit boere gedoen is, moet gedupliseer word vir nuwe opkomende swart boere.

“As die skeefgetrekte stand van grondbesit nie reggestel word nie – ’n belofte van die Grondwet – stuur ons af op ’n toekoms wat ons nie wil hê nie.”

Agda gaan saamwerk met die Wêreldbank se privaatsektor-arm, International Finance Corporation, en die European Investment Bank.

Die agentskap wil verseker dat nuwe boere toegang tot die regte vaardighede bekom. “Sommige swart boere boer reeds suksesvol, maar hulle beskik nog nie oor die soort vaardighede om op groter skaal en met groter produktiwiteit te boer nie,” sê Ferguson.

Aggrey Mahanjana, ’n direkteur van die nasionale organisasie vir opkomende rooivleisprodusente (Nerpo), het gesê grond, kapitaal en vaardighede is die sleutel vir die eerste generasie swart kommersiële boere.

Agda het reeds 36 stigterslede, maar talle individue en organisasies het Dinsdag hul name daarby gevoeg.

Die organisasie beoog in die volgende weke ’n werwingsveldtog vir nog lede. ’n Direksie word in April verkies.

Leona Archary, ’n voormalige adjunk-direkteur-generaal van grondsake, neem intussen waar as uitvoerende hoof.

Meer oor:  Roelf Meyer  |  Nick Serfontein  |  Boere  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.