Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ondersoek na optrede by Sassa-kantoor ‘byna klaar’

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, “is tevrede met die vordering” van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) se ondersoek na polisieoptrede teen mense wat vir ongeskiktheidstoelae tougestaan het.

Fritz het Donderdag gesê Opod het aan hom bevestig dat sy ondersoek na die gebeure in Januarie voor die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) se kantoor in Bellville, “byna voltooi” is.

Polisielede het op 15 Januarie ten tyde van ’n besoek van Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, die mense wat tougestaan het gewaarsku om ’n veilige afstand van mekaar te handhaaf en later is ’n waterkanon gebruik om mense uitmekaar te hou.

Mense staan in Januarie tou by Sassa se kantoor in Bellville tydens Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, se besoek. Foto: Jaco Marais

Volgens Fritz het Opod se provinsiale kantoor gesê sy verslag sal teen einde vandeesmaand afgehandel word.

Fritz sê in ’n verklaring hy het op 11 Februarie aan Opod geskryf om ’n ondersoek na die polisie se optrede aan te vra.

“Ek verwelkom die vordering met Opod se ondersoek. Waar die polisie nie in die belang van die veiligheid van inwoners optree nie, moet hulle aanspreeklik gehou word.”

Fritz het versoek dat Opod duidelikheid verskaf oor wie gevra het dat die eenheid vir openbare orde (POP) ontplooi word, die hulpbronne wat ontplooi is en waarom dit nodig was by ’n toesigbesoek van ’n minister.

“Dié vyandige optrede ondermyn die waardigheid van die kwesbare mense wat tougestaan het. Dit is onaanvaarbaar dat inwoners ’n dubbele belediging moet verduur deur lank te moet wag vir dienslewering én swak behandel te word deur die polisie.”

Dié vyandige optrede ondermyn die waardigheid van die kwesbare mense wat tougestaan het.

Sassa het aan die begin van die maand aan die Wes-Kaapse wetgewer gesê die toue by sy kantore is nou onder beheer en het sy vertroue uitgespreek dat hy die agterstand met tydelike toelae aan gestremde mense betyds gaan uitwis.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. Foto: Peter Abrahams, Son

Van die 214 000 tydelike toelae wat landwyd teen einde Desember verval het, is 52 323 in die Wes-Kaap en 64% daarvan in die Kaapstadse metropool.

Dié tydelike toelae is vir mense wat weens gestremdheid of ’n mediese toestand nie kan werk nie.

Dit verval gewoonlik ná ses tot 12 maande, maar is verleng tot einde verlede jaar nadat dit aanvanklik in Februarie 2020 verval het.

Kantore in die metro is sedert Januarie vanjaar “oorstroom” met mense wat heraansoek doen vir dié toelae. Die kantore in Athlone, Bellville, Khayelitsha, Gugulethu, Mitchells Plain en Eersterivier is as brandpunte beskou.

Daarna het Sassa in Januarie ’n tienpuntplan opgestel om die agterstand met die aansoeke te hanteer en daar is beloof dat dit teen 31 Maart uitgewis sal word.

Sassa het aan die wetgewer gesê sowat 90% van dié plan is in werking gestel, terwyl ’n elektroniese stelsel vir die mediese ondersoeke van aansoekers en die nagaan van hul toestand in werking gestel word.

Die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling het in Februarie sy voorskrifte oor die tydelike gestremdheidstoelae gewysig sodat die toelae aan mense wat vanjaar 60 jaar oud word en wie se toelae tussen 31 Desember en 31 Maart verval het of gaan verval, betaal moet word totdat hulle 60 jaar oud word. Daarna kom hulle vir ander toelae in aanmerking.

Meer oor:  Opod  |  Albert Fritz  |  Ondersoek  |  Waterkanon  |  Sassa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.