Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Opod ondersoek nou man se dood in aanhouding

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek die omstandighede waarin Leeroy Oliphant (30) Dinsdag in Epping Forest, Elsiesrivier, in polisie-aanhouding dood is.

Ndileka Cola, Opod-woordvoerder, het Donderdag gesê een van hul ondersoekbeamptes gaan Donderdag die lykskouing bywoon.

Leeroy Oliphant is Dinsdag in polisie-aanhouding dood. Foto: Facebook

“Dit sal ’n belangrike deel van die ondersoekproses wees omdat die bevindinge die oorsaak van sy dood sal bevestig,” het sy gesê.

Intussen het Caren Potberg, Oliphant se tannie en familiewoordvoerder, gesê hulle wag op die Opod-ondersoekbeampte om vir hulle te sê wat die oorsaak van Oliphant se dood is.

Sy het gesê die familie sal besluite oor stappe vorentoe neem na gelang van die bevindinge van die lykskouing.

Anita Goliath, die vrou by wie Oliphant tot met sy dood geloseer het, het Donderdag gesê hulle het Woensdag sy lyk gaan uitken.

Intussen het Imraahn Mukaddam, ’n gemeenskapsaktivis van Elsiesrivier en ’n waarnemer vir die Menseregtekommissie, gesê hulle praat met regslui wat kan help om toesig oor die ondersoek te hou.

Oliphant is Dinsdagoggend in polisie-aanhouding dood nadat hy vroeër die dag in hegtenis geneem is.

Volgens ’n inskrywing in die polisie se voorvalleboek is Oliphant dood nadat hy van pyn op die bors gekla het en gesê het hy sukkel om asem te haal.

Die mense by wie hy geloseer het, beweer egter uniformlede van die bende-eenheid het hom aangerand en sy dood kan moontlik daaraan toegeskryf word.

Oliphant het by Goliath en haar man, Gerald, gewoon. Sy sê hy het geen probleme met sy bors gehad nie en hy was ook nie ’n sieklike mens nie.

Ook Zenobia Ryneveld, ’n vriendin en ma van twee van Oliphant se kinders, sê hy het geen borskwale of enige ander siektes gehad nie.

“Leeroy was ’n gesonde man,” het Ryneveld Woensdag gesê.

Volgens Goliath het lede van die bende-eenheid Oliphant omstreeks 02:00 by hul huis in Debdenstraat kom haal. Sy het iets gehoor wat na aanranding geklink het toe hy in hegtenis geneem is.

Omstreeks twee ure later is Oliphant deur dieselfde polisielede na die Elsiesrivier-daghospitaal gebring waar hy as dood verklaar is.

Meer oor:  Elsiesrivier  |  Ondersoek  |  Opod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.