Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Opod ondersoek waterkanon by Sassa-kantoor

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek die voorval toe ’n waterkanon gebruik is om mense voor die Sassa-kantoor in Bellville uiteen te jaag.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het dit Woensdag verwelkom.

Hy het op 11 Februarie aan Opod se streekbestuurder geskryf en gevra dat die optrede van lede van die eenheid vir openbare polisiëring op 15 Januarie vanjaar ondersoek word.

Die eenheid is ontbied na die kantore van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) in Bellville omdat mense daar saamgedrom het om vir maatskaplike toelaes aansoek te doen en nie ingevolge die koronavirusregulasies ’n veilige afstand uit mekaar gehandhaaf het nie.

Die toneel op Vrydag 15 Januarie voor die Sassa-kantore in Bellville toe die polisie die mense probeer oorreed het om ’n veilige afstand uit mekaar te handhaaf. Foto: Jaco Marais

Lindiwe Sizulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, was dié dag op besoek aan Sassa se Bellville-kantore en het in ’n stadium vanuit ’n polisievoertuig by die mense gepleit om ’n veilige afstand te handhaaf.

Nadat daar ook nie op die polisie se waarskuwings ag geslaan is nie, is ’n waterkanon gebruik om die mense uiteen te jaag. Beeldmateriaal hiervan op sosiale media het hewige kritiek ontlok.

Fritz het in sy skrywe aan Opod gesê hy wil die volgende kwessies ondersoek hê:

• Wie het die teenwoordigheid van die eenheid vir openbare polisiëring by die Sassa-kantore versoek?

• Watter hulpbronne is gebruik?

• Hoekom was dit nodig om daardie hulpbronne, insluitend die waterkanon, tydens ’n oorsigbesoek van ’n minister te gebruik?

Volgens Fritz is dit belangrik “dat diegene wat vir die optrede teenoor die mees weerlose mense in ons samelewing verantwoordelik is, geïdentifiseer word en nie deur afgewaterde verslae – soos die een van genl.maj. Mpumelelo Manci op 18 Januarie 2021 aan my gestuur het – beskerm word nie”.

Manci was toe die waarnemende polisiehoof van die Wes-Kaap.

Fritz het Woensdag gesê dat hy as deel van sy oorsigfunksie ook Bheki Cele, nasionale minister van polisie, gevra het vir die polisie se amptelike verslag oor wat die dag in Bellville gebeur het.

Hy het tot op hede nog geen antwoord van Cele se kantoor ontvang nie.

Fritz beoog om die nasionale polisiehoof, genl. Khehla Sitole, ook oor die voorval te nader.

Ndileka Cola, Opod-woordvoerder, het Woensdag bevestig dat hulle die polisie se optrede die dag ondersoek. Kragtens die Wet op Opod moet die direktoraat ’n saak ondersoek wat ’n LUR na hulle verwys.

Meer oor:  Albert Fritz  |  Opod  |  Kaapstad  |  Ondersoek  |  Waterkanon  |  Belville
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.