Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Opsiener verdrink in Oranjerivier op werkpartytjie

Die opsiener van ’n lodge in Upington wat as getrou en gedissiplineer beskryf is, het glo Saterdagmiddag op ’n personeelpartytjie voor sy vrou in die Oranjerivier verdrink.

Volgens Albé van Wyk, eienaar van The Cape Lodge, vir wie die oorledene, Donovan Mcomally, gewerk het, is almal erg geskok. Sy vrou, Jennifer, werk ook vir die lodge.

Donovan Mcomally by sy vrou,Jennifer. Hy het Saterdag glo op ’n personeelpartytjie in die Oranjerivier by Upington verdrink. Foto: Verskaf

“Hy en Jennifer was onafskeidbaar. Hulle het kinders uit vorige huwelike, maar nie saam nie.

“Die personeel en my twee kinders wat die voorval gesien het, ly aan angs.”

Die voorval kom ná die tragedie verlede week waarin ’n man en twee meisies se lyke uit die kanaal by Louisvale Dorp, naby Upington, gehaal is. ’n Vrou het glo ook Saterdag gedreig om saam met haar jong kinders in dié kanaal te spring.

“Die personeel van my twee lodges, The Cape Lodge en High Breeze, was Saterdagmiddag saam op die boot wat ek ter viering van die jaar se einde gehuur het.

“Donovan het in die rivier gespring om te swem. Hy het nog geglimlag en toe onder die water verdwyn. Dit was net so 2 m van die boot af. Hy het nie weer opgekom nie. Een van ons ander personeellede het ingespring om te help, maar die stroom was te sterk. Ons het hulp ontbied.

“Dit was verskriklik, veral omdat ons niks kon doen nie.”

Van Wyk sê Mcomally was ’n staatmaker.

“Alles wat Donovan gedoen het, het hy deeglik gedoen. Hy was lojaal, en ek kon hom met enigiets vertrou. Hy het ses jaar vir my by The Cape Lodge gewerk.

“Donovan se oorskot is Maandagoggend in die rivier gevind. Hy sal Vrydag ter ruste gelê word, maar die presiese besonderhede kan ek nog nie gee nie.”

Kapt. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê die Rosedale-polisie gaan ’n geregtelike doodsondersoek doen.

“Die man het na bewering die afgelope Saterdag verdrink, waarna sy lyk Maandag uit rivier gehaal is.”

Enigiemand wat meer oor die begrafnisreëlings wil weet, kan The Cape Lodge by 054 333 1049 bel.

Meer oor:  Upington  |  Oranjerivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.