Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Optrede kom teen onwettige taxi’s in die Vrystaat

Die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer het Woensdagmiddag ná ’n vergadering met die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) gesê hulle sal wetstoepassing gebruik om onwettige taxi-bedrywighede in die Lejweleputswa-distrik hok te slaan.

Dit volg nadat tientalle minibustaxi’s uit die distrik Woensdag voor die departement se kantoor in die Bloemfonteinse middestad saamgekom het.

Tientalle taxibestuurders van die Lejweleputswa-streek het Woensdag na die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer opgeruk om hul misnoeë uit te spreek oor onder meer onwettige taxi-staanplekke en taxi’s wat sonder permitte besigheid in die streek en res van die provinsie doen. Hier is van die betogers voor die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer se kantoor in die Bloemfonteinse middestad. Foto: Mlungisi Louw

Taxi-operateurs en -bestuurders het van so ver soos Bothaville, Virginia, Hennenman, Welkom en Odendaalsrus gekom om hul misnoeë uit te spreek oor onder meer onwettige taxistaanplekke en taxi’s wat sonder permitte sake in die streek doen.

Zola Sehume, ’n taxioperateur en organiseerder van die optog, het voor die vergadering gesê hulle gaan nêrens heen nie totdat die departement hul kwessies aanhoor.

George Ramotsoto, direkteur van verkeersbestuur in die Vrystaat, sê die vergadering met Santaco het ongeveer drie uur geduur om die taxivereniging se probleme te ontleed en met die nodige oplossings vorendag te kom.

Die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer gaan van Woensdag af onmiddellik reageer nadat die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) na hul kantore in Bloemfontein opgeruk het. Hier staan die talle taxi’s voor die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer se kantoor in die Bloemfonteinse middestad. Foto: Mlungisi Louw

“Ons het met Santaco ooreengekom dat ons wetstoepassers waaksaam sal wees en het hulle verseker dat beslag gelê sal word op voertuie wat sonder ’n permit passasiers teen vergoeding van een punt na ’n ander vervoer. Ook sal toegeslaan word op dié voertuie by staanplekke vir rylopers,” sê Ramotsoto.

Daarmee saam sal ’n onwettige taxi-staanplek in Welkom Woensdag gesluit word.

Ramotsoto het die taxi-operateurs -en bestuurders voor die kantoor toegespreek en vrae aangehoor en beantwoord.

Sehume sê hy is tevrede met die uitkoms van die optog en vergadering, maar “ons sal weer terug wees indien die departement nie hul beloftes nakom nie”.

Die departement sal op 19 September ’n opvolggesprek met die taxivereniging hê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.