Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'Opwek van dooie man': Begrafnis-dienste kla
Pastoor Alph Lukau staan oor die “dooie man” in die kis.Foto: Twitter/ @AlphLukau

Drie begrafnisdienste wil regstappe oor kwaadwillige saakbeskadiging teen ’n Johannesburgse pastoor doen wat beweer dat hy ’n man uit die dood opgewek het.

Dit kom nadat ’n video van die voorval op sosiale media versprei is.

Die video is Sondag geneem. Daarin staan pastoor Alph Lukau van die Alleluia Ministries in Johannesburg oor die “lyk” van ’n man wat as Elliot Masango geïdentifiseer is, waar hy in ’n doodskis lê. Die pastoor beweeg sy hande oor die “lyk” terwyl hy vir die man bid.

Hy druk met sy hande teen Masango se liggaam terwyl hy roep: “Word wakker!” Masango maak dan sy oë oop en sit regop in die kis. Later loop hy selfs tussen die kerkgangers rond.

Die begrafnisdienste Kings and Queens Funerals, Black Phoenix en Kingdom Blue wil nou regstappe teen Lukau doen nadat hy hul dienste gebruik het.

Die “dooie man” is weer lewend en haal asem. Foto: Twitter/ @AlphLukau

“Ons distansieer ons van die veronderstelde opwekking van ’n dooie man, wat na bewering in ons lykshuis was, deur die Alleluia Ministries,” sê Kings and Queens Funerals in ’n verklaring.

Kings and Queens sê hy bied net begrafnisdienste, begrafnisdekking, begrafnisse en vervoer aan.

“Ons is deur die beweerde familielede van die oorledene genader en hulle het aan ons gesê dat hulle ’n geskil met ’n ander begrafnisondernemer gehad het en dat hulle van ons vervoerdienste gebruik wil maak. Ons het dit aangebied.”

Kings and Queens sê hulle het nie die kis verskaf nie en het ook nie die lyk in hul lykshuis gehou nie.

Op ’n gesamentlike mediakonferensie deur die drie begrafnisdienste Maandag, het adv. Prince Mafu, Kings and Queens se regsverteenwoordiger, gesê die drie begrafnisdienste se dienste is individueel en afsonderlik gebruik. Volgens hom was die begrafnisdienste onbewus van die voorgenome “opwekking uit die dood”.

“Hulle het Kingdom Blue genader om ’n kis te koop. Hulle het plakkers van Black Phoenix gebruik om hul private voertuig te merk.”

LEES OOK: KYK: Pastoor wek glo man uit die dood

Mafu sê daar is aan Kings and Queens gesê hul voertuig sal gebruik word om die lyk na ’n landelike gebied te vervoer.

Hy sê dit is jammer dat die diensverskaffers se reputasie nou as gevolg hiervan skade gely het. “Ons wil die publiek verseker dat ons professioneel en volgens wet optree.”

Volgens Mafu het die begrafnisdienste Maandag ’n saak teen Lukau by die Jeppe-polisiekantoor aanhangig gemaak.

Hy sê geen van die begrafnisdienste het die “oorledene” se “lyk” by hulle gehou nie.

Kapt. Sifiso Mabizela, polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n saak aanhangig gemaak is.

Meer oor:  Begrafnisdienste  |  Opwekking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.