Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Orania: Bom bars om Carel se kop

Die koop van ’n Mercedes-Benz, ’n 45%-salarisverhoging, asook ’n lang lys van beskuldigings oor wanbestuur en binnegevegte het rondom die kop van Carel Boshoff, president van die Orania- beweging in die Noord-Kaap, en sy organisasie losgebars.

Dit kan sy posisie nou in die gedrang bring.

Carel Boshoff
Carel Boshoff, president van die Orania-beweging. Foto: Jaco Nel
Netwerk24 Foto: Jaco Nel

Ná ’n onlangse forensiese ondersoek sal op ’n burgerraadsvergadering besluit word of ’n regspan aangestel moet word om klagtes teen hom verder te ondersoek en wat in die besluit omskryf word as “beweerde verryking en diefstal”.

Volgens Sarel Roets, visepresident van die Orania-beweging, sal die burgerraad in Mei vergader.

Die ondersoek spruit uit klagtes wat ’n voormalige werknemer in die kantoor van die Uitvoerende Raad (UR) verlede jaar ingedien het. Die klagtes is onder meer dat Boshoff glo ’n Mercedes-Benz vir R102 000 onregmatig gekoop en gebruik het, en sy salaris (genoem die presidentshonorarium) met 45% tot R22 000 per maand verhoog het.

Dit glo omdat bykomende kantoorwerk van hom verwag is.

Ook sy hantering van die organisasie se groeifonds is ter sprake.

Roets sê die klagtes spruit uit ’n leemte in die leierskap wat aan sekere personeellede se persoonlike probleme en konflik te wyte is.

“Nadat ’n reeks klagtes by die UR ingedien is, is ’n onafhanklike paneel, waarby forensiese ouditeurs betrokke is, saamgestel omdat die president onder andere geïmpliseer is.

“Daar was nie gronde vir die meerderheid van die klagtes nie. Die bevinding was dat daar geen korrupsie was nie, maar aanbevelings is gemaak dat die stelsels verbeter moet word.

“Die burgerraad moet egter besluit of ’n onafhanklike regspan verdere ondersoek na aantygings teen Boshoff moet doen. Boshoff se posisie kan dus moontlik in die gedrang wees.”

Intussen sê Boshoff hy lê nie snags wakker daaroor nie.

“Net soos met pres. Cyril Ramaphosa is enige verkose ampsdraer se posisie in beginsel altyd in die gedrang.

Die burgerraad moet egter besluit of ’n onafhanklike regspan verdere ondersoek na aantygings teen Boshoff moet doen.
Sarel Roets, visepresident van die Orania-beweging

“Orania het soliede prosesse en ek is gemaklik met alles. Ek het nie slapelose nagte nie.”

Hy het aan Netwerk24 gesê dit veroorsaak ongemaklikheid as interne prosesse aan die gang is en mense, wat lastighede daarmee ondervind, bring nou iets wat halfpad is in die ope.

Van die kwessies in die ondersoekverslag sluit ook bewerings teen verskeie voormalige ampsdraers en personeellede van die beweging in oor oorsese reise, belangebotsings, ’n lening uit die groeifonds en ’n algehele gebrek aan goeie bestuurspraktyke.

* Aanbevelings word vir verdere ondersoek gedoen by verskeie instellings, onder meer die Gousblom Ontwikkeling: ’n maatskappy waarvan die Orania Beweging Helpsaamfonds en Solidariteit Helpende Hand aandeelhouers is.

Lede van die beweging het aan Netwerk24 gesê hulle bring die kwessie in die ope, want “Afrikaners se ingesamelde geld word verkwis en ons vrees ’n toesmeerdery.”

Meer oor:  Carel Boshoff  |  Orania  |  Orania-Beweging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.