Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Orania ondersoek Boshoff ná klagtes

Die posisie van die president van die Orania-beweging in die Noord-Kaap, Carel Boshoff, kan ná ’n onlangse forensiese ondersoek na moontlike ongerymdhede deur die uitvoerende raad (UR) van dié dorp in die gedrang wees.

Daar sal moontlik binnekort op ’n burgerraadsvergadering besluit word of ’n regspan aangestel moet word om die twee klagtes teen hom verder te ondersoek.

Intussen sê Boshoff hy lê nie snags wakker daaroor nie.

“Net soos met pres. Cyril Ramaphosa is enige verkose ampsdraer se posisie in beginsel altyd in die gedrang.

“Orania het soliede prosesse en ek is gemaklik met alles. Ek het nie slapelose nagte nie.”

Volgens Sarel Roets, woordvoerder van die Orania-beweging, sal die burgerraad in Mei besin of ’n regspan aangestel moet word om die bewerings van korrupsie te ondersoek en te vervolg indien nodig.

Carel Boshoff, president van die Orania-beweging. Foto: Jaco Nel

Die ondersoek spruit uit klagtes wat ’n voormalige werknemer in die kantoor van die UR verlede jaar ingedien het, onder meer dat Boshoff glo ’n motor onregmatig gekoop en gebruik, en sy salaris met 45% tot R22 000 per maand verhoog het.

Roets sê die klagtes spruit uit ’n leemte in die leierskap wat aan sekere personeellede se persoonlike probleme en konflik te wyte is.

“Nadat ’n reeks klagtes by die UR ingedien is, is ’n onafhanklike paneel, waarby forensiese ouditeurs betrokke is, saamgestel omdat die president en adjunk-uitvoerende hoof geïmpliseer is.”

Dié paneel het verlede jaar ondersoek ingestel.

“Daar was nie gronde vir die meerderheid van die klagtes nie. Die bevinding was dat daar geen korrupsie was nie, maar aanbevelings is gemaak dat die stelsels verbeter moet word. Die forensiese span het nie kans gesien om die twee klagtes teen Boshoff te ondersoek nie.

“Die burgerraad moet nou besluit of ’n onafhanklike regspan die ondersoek moet doen en stappe aanbeveel. Boshoff se posisie kan dus moontlik in gedrang wees.

“Die Orania-beweging se grondwet is baie goed. Soms word ’n leemte eers herken wanneer ’n probleem of leierskap-uitdagings ontstaan. Taakbeskrywings, posvlakke, bevoegdhede en aanstellings moet hersien word. Die stelsels is voldoende, maar daar is ruimte vir verbetering.”

Die president word elke vier jaar verkies wanneer die Orania-beweging se lede vergader en ’n burgerraad van 34 lede verkies, wat dan die UR se president en twee adjunkpresidente verkies. Die president kies dan lede om saam met hulle in die UR te dien.

Die volgende verkiesing is in Augustus.

Meer oor:  Carel Boshoff  |  Orania
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.