Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Orde van Dapperheid vir 2 ná treinongeluk?

Renier Schoeman, oudminister in Nelson Mandela se regering van nasionale eenheid, gaan die regering nader om die ­Orde van Mendi vir Dapperheid aan die twee seuns toe te ken wat babas en kleuters verlede week uit ’n brandende trein gered het.

“Ek het reeds ’n afspraak met die presidensie hieroor gemaak. Ek het ’n baie sterk vermoede dat die seuns se dade aan die vereistes van die toekenning vir heldhaftige optrede voldoen,” sê Schoeman.

Rapport het verlede Sondag berig hoe Evert du Preez en Mokoni Chaka, twee 12-jarige vriende, die vorige Donderdag “alles” gegee het in hul pogings om die 416 passasiers uit die trein te help kry wat ná ’n botsing met ’n vragmotor by Geneva, tussen Kroonstad en Hennenman, ontspoor het.

Evert en Mokoni was van die eerstes op die toneel nadat ’n brand tien minute ná die botsing uitgebreek het.

Passasiers was bang dat die trein gaan ontplof en ma’s het hul babas en kleuters vir Evert, Mokoni en ander plaaswerkers deur die treinvensters aangegee. Die seuns het daarna bejaardes gehelp om uit die trein te kom. Schoeman sê hy het die idee gekry toe hy die berig verlede Sondag gelees het.

“Wat daar gebeur het, was aaklig, maar die seuns se heldedade was soos ’n ligstraal in die donkerte.

“Dit was verder ’n ware Mandela-oomblik van ’n wit en swart maat wat oor rassegrense heen hul medemens gehelp het. Dit is ’n inspirerend en dit moet gevier word,” sê hy.

Evert du Preez en Mokoni Chaka van Hennenman. Foto: Mlungisi Louw

Volgens Schoeman is die toekenning van die ­Orde van Mendi vir Dapperheid nie ’n outomatiese proses nie.

Verklarings van passasiers sal onder meer afgeneem moet word om vas te stel of die seuns se optrede aan die vereistes van die orde voldoen.

“Dit sal moontlik afhang van die mate waarin hulle hul eie lewens in gevaar gestel het om ander te help.”

Die Orde van Mendi vir Dapperheid is onder meer aan verskeie vryheidstryders soos Alfred Duma, Riot Makhomanisi Mkhwanazi en Cletus Mzimela toegeken.

Die ouers van Michael Janse van Rensburg, ’n eerstejaarstudent, het in 2012 die medalje namens hul seun ontvang wat verdrink het toe hy ’n seun uit die Schoonspruit gered het.

Meer oor:  Hennenman  |  Redding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.