Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oscar ‘het positiewe houding’, sê DKD

“Dit gaan báie goed met Oscar Pistorius,” het Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), Woensdag gesê.

Volgens Nxumalo toon Pistorius goeie gedrag in die Atteridgeville-tronk in Pretoria en hy het ’n “positiewe ingesteldheid”.

Oscar is geklassifiseer as ’n groep A-medium-gevangene omdat hy volgehoue goeie gedrag toon en deelneem aan ’n verskeidenheid van rehabilitasieprogramme.

Volgens Nxumalo is die tronk genoeg straf vir ’n oortreder. “Die doel is nie om hulle (verder) te straf nie, maar om hulle te rehabiliteer.”

Hy wou nie sê aan watter rehabilitasieprogramme Oscar deelneem nie, behalwe dat dit binne die tronk plaasvind.

Oscar, wat vandag (6 Julie) presies ’n jaar in aanhouding is, moet nog twee jaar tronkstraf uitdien voordat hy vir parool in aanmerking kan kom.

Volgens die DKD moet misdadigers wat ná 1 Oktober 2004 gevonnis is, ’n sekere minimum tyd in die tronk deurbring voordat parool vir hulle oorweeg kan word. Vir vasgestelde vonnisse, soos die ses jaar tronkstraf wat Oscar verlede jaar opgelê is, moet die helfte daarvan uitgedien word. Hy moet dus drie jaar van sy vonnis uitdien voordat hy vir parool in aanmerking kom.

Dr. Llelwellyn Curlewis, strafregkenner, sê parool is egter nie ’n outomatiese reg of ’n gegewe nie.

Oscar Pistorius buite die hooggeregshof in Pretoria tydens sy verhoor. Foto: Herman Verwey

Die paroolraad behoort te weet, of in kennis gestel te word, van die staat se hangende saak teen Oscar se vonnis. Die staat meen Oscar se vonnis van ses jaar tronkstraf is skokkend lig en dat hy heelwat langer in die tronk moet sit. Die staat doen by die appèlhof aansoek om teen die vonnis te mag appelleer.

Curlewis sê as drie jaar tronkstraf verby is voordat die appèlhof uitspraak gelewer het, kan die paroolraad een van twee dinge doen.

Eerstens kan Oscar se paroolaansoek uitgestel word en daar kan gewag word totdat die hof sy beslissing maak. Tweedens kan die paroolraad ná drie jaar tronkstraf ’n paroolverhoor hou, parool toestaan en hom vrylaat. As die hof daarna besluit hy moet vir langer tronkstraf uitdien, sal dit egter praktiese probleme veroorsaak, want dan moet Oscar weereens, soos in die verlede, vir tronkstraf aanmeld.

“So iets sal ’n wrang smaak in die mond laat.”

Curlewis sê die saak is uniek, want die kwessie oor Oscar se vonnis moes lankal uitgeklaar gewees het.

Nxumalo sê die DKD werk saam met die appèlhof. Hy sê as die paroolraad aan Oscar parool toestaan en die hof eers later uitspraak lewer en die tronkstraf verhoog, “dan moet hy terugkom om die res van sy vonnis uit te dien”.

* Vroeër is berig die staat en die verdediging se mondelingse argumente in die staat se appèlaansoek gaan moontlik in die vierde termyn van die appèlhof – in November vanjaar – aangehoor word.

* Na verneem word word Oscar in ’n enkelsel aangehou nadat hy vir só ’n sel by die tronkowerhede aansoek gedoen het. Nxumalo wou nie Woensdag bevestig of Oscar wel in ’n enkelsel aangehou word nie.

Meer oor:  Dkd  |  Oscar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.