Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ottosdal-brand: LUR besoek dorp, planne vir ingryping
Die munisipale gebou in Ottosdal nadat oproeriges dit aan die brand gesteek het. Die binnekant van die gebou is vernietig. Foto: Verskaf

Die Noordwes-regering gaan nou so gou as moontlik ’n administrateur en ondersteunende span na die Ottosdal-omgewing stuur waar betogers Woensdag die munisipale gebou en verskeie munisipale diensvoertuie aan die brand gesteek het.

’n Trekker en vragmotor van die bankrot Tswaing-munisipaliteit wat oproeriges in Ottosdal aan die brand gesteek het.Foto: Verskaf

Amptenare en raadslede van die Tswaing-munisipaliteit wat die gebied bedien, sal na verwagting Vrydag hul Junie-salarisse kry nadat die departement van openbare werke sy skuld by dié munisipaliteit nou gedelg het.

Dís van die noodplanne wat volgens Dineo Thapelo, woordvoerder vir Noordwes se departement van plaaslike regering, nou in werking tree om die krisis in die bankrot Tswaing-munisipaliteit te bestuur. Die munisipaliteit, wat Ottosdal, Sannieshof en Delareyville bedien, is in Mei onder administrasie geplaas, maar ’n administrateur moes nog soontoe gestuur word.

Dienslewering in die omgewing het die afgelope weke heeltemal in duie gestort omdat munisipale werkers geweier het om te werk nadat hul Junie-salarisse nie betaal is nie. Die munisipale kantore in Delareyville is geplunder en in Sannieshof loop riool in die strate af omdat die munisipale vragmotors nie ry om septiese tenks leeg te suig nie.

In Ottosdal is die munisipale gebou nou tot niet, insluitende die brandweerafdeling en lisensiekantore. Gordon Kegakilwe, LUR vir plaaslike regering in Noordwes, het die dorp Donderdag besoek en met Tswaing-raadslede vergader om terugvoering aan dr. Job Mokgoro, Noordwes se premier, te gee oor hoe sake by die munisipaliteit omgekeer kan word, het Thapelo gesê.

Altesaam 14 mense het Donderdag in die landdroshof in Ottosdal verskyn weens die brandstigting en openbare geweld Woensdag in die dorp, het kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder, gesê. Hulle bly in aanhouding tot hul volgende verskyning op 16 Julie. Vier kinders wat saam met die groep in hegtenis geneem is, is intussen vrygelaat omdat hulle nie direk met die voorvalle verbind kan word nie, sê Tselanyane.

Die situasie was Donderdag kalm ná Woensdag se chaos wat veroorsaak het dat skole en ondernemings moes toemaak.

Mokgoro het die vernietiging van eiendom veroordeel. “Ons werk hard aan langtermynoplossings vir onder meer die niebetaling van salarisse en voortslepende gebrek aan basiese dienslewering.”

Freddy Sonakile, die DA se woordvoerder oor plaaslike regering in Noordwes, sê ’n memorandum met griewe oor allerlei diensleweringskwessies, soos gebrekkige watervoorsiening, is al drie weke gelede aan die munisipaliteit oorhanding, maar inwoners het nog geen terugvoering daaroor gekry nie. “Isaac Moruti, die munisipale bestuurder, is blykbaar met siekverlof nadat hy en die burgemeester, Lydia Malwane, glo ’n uitval gehad het.”

Malwane en Moruti het die afgelope week nie op verskeie versoeke via WhatsApp of SMS om kommentaar oor die probleme in Tswaing gereageer nie. Hulle het ook nie hul selfone beantwoord nie.

Fanie du Toit, onderleier van die VF Plus in Noordwes, vra daar moet nou nasionaal by Tswaing ingegryp word. “Inwoners gaan reeds jare gebuk onder swak dienslewering. Nou ly die plaaslike ekonomie en getroue belastingbetalers die meeste onder die vernietiging. Dis ’n skande dat ’n eens florerende en vreedsame plattelandse gemeenskap gyselaar gehou word deur omstandighede wat geskep is deur ’n onbevoegde plaaslike ANC-regering.”

Meer oor:  Dr. Job Mokgoro  |  Gordon Kegakilwe  |  Ottosdol  |  Plundering  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.