Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ou selfoon se fut ná 17 j. nog nie uit
Die nege nuwe oproepe wat Xander Steyn op ’n 17 jaar oue selfoon gekry het. Foto: Facebook

Eers het hy gedog iemand breek by sy huis in. Toe dink hy dit spook. Maar dié “dief” of “poltergees” wat die onheilspellende geluid maak, was toe al die tyd ’n selfoon uit sy universiteitsdae wat ná 17 jaar uit die bloute weer begin lui het.

Alexander (Xander) Steyn, hoof van Xander Art Productions in Bloemfontein, het op Facebook oor sy vreemde ervaring geskryf.

Hy het by navraag gesê hy het die klein Sony Ericsson-selfoon Dinsdagaand in ’n kartondoos ontdek en dit uitgehaal om vir sy suster se kinders te wys.

“Dit was my selfoon toe ek nog argitektuur by Kovsies (Universiteit van die Vrystaat) studeer het. Ek dink ek het hom in my tweede- of derdejaar gekry. Dit was ’n flippen cool selfoon, want dit het ’n kleurskerm gehad.”

Groot was Steyn se verbasing toe hy sien die selfoon is ná al die jare nog aan en dat die battery nog 50% vol was.

“Ek weet nie of iemand hom in ’n stadium weer volgelaai het nie, maar ek het daardie foon letterlik weggepak en van hom vergeet. Ek weet nie eens waar die laaier is nie,” sê Steyn.

Hy los die selfoon toe op die eetkamertafel en gaan slaap, net om Woensdagoggend om 07:00 van ’n onaardse geluid wakker te skrik.

Xander Steyn Foto: Facebook

“Ek het hierdie vreemde vibrasiegeluide gehoor en gedink, wat gaan aan? My honde wat saam met my op die bed slaap, het begin blaf en ek het my alie afgeskrik. Ek het regtig gedink iemand is in die huis.”

Steyn sê die geluid het later opgehou en die honde het ophou blaf en gekalmeer. Hy het toe sy wekker vir 07:15 gestel en omgedraai vir nog ’n paar minute se slaap.

“Twee minute later hoor ek weer die zzzzzz-geluid. My honde was te bang, so ek klim toe maar uit die bed om te gaan kyk wat aangaan. Ek het nog ’n tennisraket gegryp, dat ek net iets in my hand het as ek by die trap afloop. Toe ek by die onderpunt van die trap kom, hoor ek wéér die vibrasie. Toe sien ek die foon op my eetkamertafel en besef dit lui,” vertel Steyn.

Hy het nie die nommer geken wat hom bel nie en sê hy het nog nie die moed gehad om die nommers terug te bel nie, “maar wat my verstand te bowe gaan, is hoe die ding se battery nog ná 17 jaar hou”!

“Ek het pas ’n nuwe iPhone XR gekry en dié ding se battery hou maar ’n dag of twee. So, ja, ouskool- elektroniese toestelle is gemaak om ’n leeftyd te hou.”

Meer oor:  Selfoon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.