Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ou vyande gedenk Cuito Cuanavale – en strooi papawers

Tydens 61 Meg se laaste “inval” van Angola in Mei was die Suid-Afrikaanse manskappe nie in browns en boshoede geklee soos destyds met die Slag van Cuito Cuanavale nie, maar in swart gholfhemde en bofbalpette, gewapen met boodskappe van vriendskap en vrede en die leuse Unidade de Amizade – eenheid in vriendskap.

Maria Helena Lõa (tweede van links), assistentdirekteur van Angola se Nasionale Instituut vir Biodiversiteit en Bewaring, Antonia Julio da Silva, die hoofsekretaris van die toerismeminister, genl. Fernando Mateus en genl. Johan Dippenaar van die ou SAW saam met ander hooggeplaastes by gister se parade. Foto: Elizabeth Sejake

Oorlewende lede van die ou Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) se 61 Gemeganiseerde Bataljongroep (Meg Bn Gp) het Saterdag hul jaarlikse gedenkdiens by die oorlogsmuseum in Johannesburg gehou. Vier Angolese veterane – onder wie oudgenl. Fernando Mateus – het gister saam met 65 SAW-veterane gebid en albei kante se pyn onthou.

Oud-lt. Chris (Barries) Barnard van 61 Meg het aan Rapport gesê: “Dis ongelooflik om vandag hier te kan hande vat en vriende te word met mense wat 30 jaar gelede nog ons vyande was.”

Die teenwoordigheid van die vier Angolese het gespruit uit ’n uitgebreide toer in Angola in Mei deur 103 Suid-Afrikaanse oudsoldate. Familielede was ook saam.

Hy kniel toe en hy huil vreeslik.

Cuito Cuanavale (CC) was die tweede grootste veldslag tussen Afrika-weermagte nóg. In die reeks skermutselings het die Kubaans ondersteunde People’s Armed Forces of Liberation of Angola (Fapla) gebots met die National Union for the Total Independence of Angola (Unita), met ondersteuning van Suid-Afrika. Die slagveld was naby die militêre vliegveld en die dorpie Cuito Cuanavale. Die Suid-Afrikaners moes verhinder dat ’n reuse-offensief van Fapla op Unita se basisse in die gebied slaag.

In 1988 het die veldslag onbeslis geëindig toe ’n vredesooreenkoms gesluit is en die Suid-Afrikaners teruggekeer het huis toe.

Sarel Coetzee (middel), oudsoldaat van die SAW, met twee voormalige vyande, ’n oud-Fapla-soldaat en ’n Russiese militêre raadgewer, 30 jaar later.

Ds. Fanus Hansen (52), leraar van NG gemeente Potchefstroom-Oos, is vandag een van die 61 Meg se laaste drie oorlewende kapelane en het Saterdag se diens en die reis in Mei meegemaak, al was hy nie in 1987 saam oor die grens nie. Hy op 11 Mei het die goewerneur van die Cuando Cubango-provinsie, Pedro Mutinde, hulle in Menongue, die hoofstad, ontvang.

Hulle is op ’n aandete en die volgende oggend ’n ontbyt getrakteer, sê Hansen, wat afgevaardig is om met die media te praat. “Die ontbyt van roomkoeke en sjampanje was bietjie vreemd, maar heerlik.”

Die 103 oud-SAW-lede het toe deur die voorheen ongemaklik-bekende landskap tot by Cuito gereis. Hulle het twee gedenkdienste gehou, een net buite Cuito en die tweede op die ou brug wat die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte, oftewel Recces, in die oorlog die lug ingeblaas het.

“Ons doelwit destyds was om te veg tot by die Cuito-rivier en die brug op te blaas. Hul opdrag was dat geen Suid-Afrikaner sy voete in die dorpie Cuito, net anderkant die rivier, mag sit nie. Ons het albei dus ons doelwitte bereik,” sê Hansen.

Die manne raak stil by Mielie Meiring se ratel, net noord van Calueque in Angola.

Veral die tweede diens was spesiaal, sê hy. “Suid-Afrikaanse én Angolese vroue van ons veterane het rooi papawers van die oorblyfsels van die ou brug af in die rivier gegooi. Vir elke mamma, elke sussie, elke meisie en elke vrou wat iemand in hierdie veldslag verloor het. Vir almal.”

Op 19 Mei in die dorpie Mupa het 61 Meg ’n houtkruis aan die plaaslike Katolieke kerkie gaan terugbesorg waar ’n luitenant van die SAW dit in 1983 verwyder het. “Ons dog dis net ’n geval van die kruis teruggee en ry. Toe hou daardie dorpie ’n erediens van ’n uur en ’n half op ’n Saterdag. Die hele dorp was daar. Toe ’n nonnekoor, terwyl die priester gewyde water op die kruis spat, ’n sagte meditatiewe lied aanhef, het ons trane geloop.”

“Tussen Ondjiva en Xangongo het ons die volgende dag nog so gery toe roep Werner Lotter skielik ‘Stop by daardie groot kremetartboom.’ ”

Hansen vertel Lotter het die daktentjie se leer gebruik om so 3,5 m hoog teen die boom se stam op te klim en sy ysterkruis aan die boom vasgespyker.

“Toe hy afklim het sy bene meegegee toe hy die grond raak. Alles was skielik net te veel. Hy kniel toe en huil vreeslik. En toe maak hy sy hart oop.”

Lotter se broer Fred is in 1988 naby daardie boom dood.

Die volgende oggend het die kamerade hul toer afgesluit met ’n spesiale nagmaal onder ’n maroelaboom in Xangongo in die suide van Angola.

Meer oor:  Chris Barnard  |  Angola  |  Grensoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.