Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oud-bok Gysie se dogter sterf in botsing

Die voormalige Springbok-rugbyspeler Gysie Pienaar het Donderdag nog telefonies met sy dogter, René O’Ehley, gesels om te hoor hoe dit gaan. ’n Dag later is sy dood in ’n motorbotsing met ’n vragmotor.

René O’Ehley het verlede jaar by dié foto van haar, haar man, Edmund, en kinders, Edmund (8) en Kayla (10), geskryf: “Hierdie man en kids lief ek om die maan!!!!”

Kenny Africa, die Wes-Kaapse verkeershoof, sê René (38) se wit Volkswagen Polo en ’n Mercedes-vragmotor het Vrydag omstreeks 15:30 op die N2 tussen Botrivier en Caledon, naby die plaas Rooiheuwel, gebots. ’n Hilux-bakkie was ook in die ongeluk betrokke.

Africa sê die impak van die botsing moes geweldig gewees het. Die Polo is onder die vragmotor in.

“Die polisie doen ’n diepte-ondersoek na die oorsaak van die botsing,” het Africa gesê.

René was die suster van die voormalige Springbok- en Haaie-speler Ruan Pienaar.

Gysie (64) het Saterdag gesê René het kort voor die ongeluk haar man, Edmund, gebel en gesê daar is fout met haar simkaart, maar sy kon nie ’n nuwe een kry nie omdat sy nie haar Fica-dokumente by haar gehad het nie.

René het die middag ook ’n doktersafspraak vir ’n roetine-ondersoek gehad. Gysie sê toe dit laat begin raak, het Edmund onrustig geword.

Gysie sê Edmund het selfs nog meer bekommerd geraak toe hy aanlyn lees van ’n ongeluk wat op die pad was wat René gery het.

Die O’Ehley- en Pienaar-familie het omstreeks 18:45 die amptelike tyding gekry.

“My hart is stukkend,” het Gysie gister gesê.

Hy het sy dogter beskryf as ’n sprankelende mens. René was tot einde verlede jaar ’n onderwyseres aan die Laerskool Bredasdorp.

Willie Brooks, ’n onderwyser en sportafrigter by die skool, sê hoewel René nie meer ’n onderwyser by die skool was nie, het sy nog sport afgerig.

Brooks sê hulle het albei met atletiekafrigting by die skool gehelp en René het altyd die swemgala gereël.

“Sy was die hart van die skool. Sy was soos ’n vars briesie wat verbygekom het.”

René kom uit ’n bloubloed-sportfamilie.

Gysie het in 1980 in Durban vir die eerste keer as heelagter die Groen-en-goud oor sy kop getrek teen ’n Suid-Amerikaanse uitnodigingspan.

René se broer, Ruan, wat vir Montpellier in Frankryk rugby speel, was nie gister op die bank vir die wedstryd teen Perpignan, soos verwag nie.

René se seun, Edmund jr. (8), het gister sy eerste krieketwedstryd vir die kwartaal op De Doorns gespeel sonder sy ma op die kantlyn, berig Netwerk24.

Haar wewenaar, Edmund, was wel daar. “Ek dink dit vat darem ’n bietjie van die hartseer weg en hou net die gedagtes op ’n ander plek besig,” het hy gesê.

Sy seun wou baie graag speel en hy het besluit dit is dalk ’n goeie ding vir hulle almal om uit die huis te kom. Edmund jr. en sy suster, Kayla (10), is daar omring deur maats.

“Ons is almal baie, baie hartseer. Die kinders is klein, ek dink nie hulle verstaan heeltemal nie,” sê O’Ehley.

Begrafnisreëlings word nog getref.

Meer oor:  Gysie Pienaar  |  René O’Ehley  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.