Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oud-Bok se kleinseun (8) op krieketveld sonder ma
Die O’Ehley-gesin. René en Edmund O'Ehley saam met hul kinders, Kayla (10) en Edmund jr. (8).

Die agtjarige Edmund jr. O’Ehley speel Saterdag sy eerste krieketwedstryd vir die kwartaal, maar dit sal sonder sy ma, René (38), op die kantlyn wees.

René O’Ehley, die voormalige Springbokrugbyspeler Gysie Pienaar se dogter, is Vrydag dood in ’n botsing reg van voor met ’n vragmotor.

René se man, Edmund O’Ehley (41), sê sy was op pad terug na Bredasdorp van Stellenbosch af toe die ongeluk op die N2 tussen Botrivier en Caledon in die Wes-Kaap gebeur het. Sy het by vriende gekuier.

Kenny Africa, die Wes-Kaapse verkeershoof, het bevestig ’n vrou wat ’n Volkswagen Polo bestuur het, is dood toe die Polo en ’n vragmotor reg van voor gebots het. Africa sê daar was twee ander voertuie in die ongeluk betrokke.

René en Edmund O’Ehley.Foto: Rene O’Ehley/ Facebook
Gysie Pienaar Foto: Tertius Pickard/Touchline Photo
René O’Ehley

O’Ehley sê hy, sy seun en dogter, Kayla (10), is Saterdag op De Doorns waar Edmund jr. krieket speel.

“Ek dink dit vat darem ’n bietjie van die hartseer weg en hou net die gedagtes op ’n ander plek besig,” sê hy.

Hy sê Edmund jr. wou baie graag speel en hy wil graag hê sy seun moet doen waarvan hy hou, dus het hy besluit dat hulle eerder nie vandag by die huis sal bly nie.

Hy sê daar is baie ondersteuning; albei sy kinders is Saterdag omring deur maats.

“Ons is almal baie, baie hartseer. Die kinders is mos nou maar nog klein, so ek dink nie hulle verstaan heeltemal nie.

“Dis maar vir ons almal baie swaar. Dis baie erg wat gebeur het. Die gemeenskap is ook baie erg geruk.”

René was nog nie terug teen die tyd dat Kayla na haar eerste sokkie moes gaan nie.

O’Ehley sê hy het haar sokkie toe gestuur, omdat hy in daardie stadium nog nie seker was wat aangaan nie. Sy is gaan haal toe die familie in kennis gestel is.

René was ’n onderwyser by die Laerskool Bredasdorp voordat sy middel verlede jaar ophou skool gee het om op haar gesin te fokus en O’Ehley met administrasiewerk te help. O’Ehley is ’n finansiële adviseur by die beleggingsgroep PSG.

Die egpaar was Desember 12 jaar getroud.

’n Gemeenskaplike vriend het hulle in Kaapstad, waar sy skool gegee het en hy by ’n ouditeursfirma gewerk het, aan mekaar voorgestel.

“Sy was ’n passievolle mens. Sy het die lewe met oorgawe geleef en was baie spontaan. Kinders was baie spesiaal vir haar en omdat sy so ’n ongelooflike mens was, was almal mal oor haar,” vertel O’Ehley.

René het graag geoefen. Hy sê sy was lief vir sport en het graag gedraf en geswem.

Ds. Braam Coetzee van die NG kerk op Bredasdorp sê sy was ’n “sprankelmens” wat nou by die kerk en skool betrokke was. Hy sê dit het regtig goed met die gesin gegaan.

Coetzee het haar as ’n kind van die Here beskryf.

Daar is nog nie begrafnisreëlings getref nie.

René O’Ehley is Vrydag dood toe haar Volkswagen Polo reg van voor met ’n vragmotor gebots het.
Die ongelukstoneel op die N2 tussen Botrivier en Caledon in die Wes-Kaap.
Een van die vier voertuie wat Vrydag in die ongeluk op die N2 tussen Botrivier en Caledon in die Wes-Kaap betrokke was.

Meer oor:  Gysie Pienaar  |  Padsterfte  |  Botsing  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.