Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oud-Bokke eis Toetie se kop

Die oud-Bokke Wynand Claassen en Ollie le Roux meen ná Saterdagaand se slagting waar die Springbokke met 3–38 teen die Iere verloor het, is die skrif teen die muur – Toetie moet waai.

Ollie le Roux Foto: CONRAD BORNMAN

Le Roux, voormalige Bok-stut, het vandeesweek onder hewige kritiek deurgeloop omdat hy gesê het die Bokbreier, Allister Coetzee, weet “niks” van die Springbokke af nie, want hy het nie self vir die span gespeel nie en behoort nie die afrigter te wees nie.

Le Roux het Sondag gesê sy uitlatings oor Coetzee is nie persoonlik nie en moet ook nie onregverdig as rassisme bestempel word nie.

“Ek sien nie kleur op die rugbyveld nie . . . Hy (Coetzee) is net nie sterk genoeg as hoofafrigter nie. Dit is ook nie reg dat die ou so vir die wolwe gegooi word nie.”

Ek sien nie kleur op die rugbyveld nie . . . Hy (Coetzee) is net nie sterk genoeg as hoofafrigter nie. Dit is ook nie reg dat die ou so vir die wolwe gegooi word nie.

Le Roux glo steeds dat die span met afrigters soos die oud-Springbokke Rassie Erasmus en Johan Ackermann sommer stukke beter sou vaar as wat tans die geval is.

“As ek in ’n loopgraaf sit en die skote klap, soek ek ’n kryger langs my. Ek gee nie om hoeveel videospeletjies jy al gespeel of hoeveel boeke jy gelees het nie, ek soek iemand wat al daar was.”

Volgens Le Roux kan Saru ook kyk vir sterk afrigters uit die buiteland, soos die Nieu-Seelanders Joe Schmidt en John Mitchell wat onderskeidelik die Iere en Bulle afrig, Warren Gatland van Wallis, en die Australiër Eddie Jones, Engeland se huidige breier. Hy meen hulle kan die Bokke ook weer op die wenpad kry.

Wynand Claassen, oud-Bokkaptein, sê die probleme in Suid-Afrikaanse rugby gaan nie oornag opgelos word nie, maar om ’n nuwe afrigter aan te stel, sal ’n tree in die regte rigting wees.

Hy stem saam dat Erasmus, wat onlangs as Saru se direkteur van rugby aangestel is, regstreeks betrokke by die afrigting van die Springbokke moet wees.

“Ons kan nie so aanploeter nie.”

Ons kan nie so aanploeter nie.

Volgens Claassen kan nie sommer enige oud-speler as ’n afrigter aangestel word nie, maar iemand soos Ackermann (voormalige afrigter van die Leeus wat nou Gloucester se breier is), Erasmus en Robert du Preez, afrigter van die Haaie, het hulle ná hul speeldae as kundige afrigters bewys.

Ons probleme strek volgens hom ook verder as die afrigting, en “amateur-administrateurs” en bestuurders behoort vervang te word met oudspelers wat sukses in onder meer die sakewêreld behaal het en kundigheid in dié veld opgedoen het.

Wynand Claassen

Claassen sê byvoorbeeld was dit ’n puik idee om die oud-Bokkaptein Gary Teichmann as die uitvoerende hoof van die Haaie se Rugbyunie aan te stel, net soos die geval met Kevin de Klerk, president van die Goue Leeus Rugbyunie.

Volgens hom het oudspelers passie vir die spel en sal alles moontlik doen om Suid-Afrikaanse rugby te bevorder, maar word uitgewerk weens “jaloesie”.

Verder stel Le Roux voor dat “hoë-prestasiesentrums” op die been gebring word om vaardige rugbyspelers uit alle rasgroepe te kweek en so ook transformasie in die spel teweeg te bring. Oudspelers kan volgens hom ook ’n raadplegende rol vir die Bokke vervul.

Volgens Claassen lyk dit nie of die Springbokke ’n behoorlike wedstrydplan het nie. Hy kritiseer veral die “doellose skoppe” wat ’n “siekte” in ons land se rugby geword het.

’n Hele kopskuif oor die spel onder spelers, afrigters, administrateurs en bestuurders is volgens hom nodig om die Springbokke weer op die wenpad te kry.

Kyk hier na twiets van ander oudspelers oor die Bokke se nederlaag teen die Iere:

Meer oor:  Wynand Claassen  |  Ollie Le Roux  |  Springbokke  |  Boktoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.