Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oud-Bokke groet Gysie se dogter, René

“Julle is dapper muise!” het ds. Braam Coetzee die verwese Edmund (8) en Kayla O’Ehley (10) van die kansel af opgebeur in ’n aangrypende troosdiens in die NG kerk op Bredasdorp in die Wes-Kaapse Overberg-streek.

Die laaste foto van die Pienaar-gesin saam. Van links is Gysie, René, Ruan en Rida. Die foto is verlede jaar op die Bram Fischer-lughawe in Bloemfontein geneem. Foto: Facebook/Janine Jackson

Edmund en Kayla is die kinders van René O’Ehley (38), dogter van Gysie Pienaar, oud-Springbokheelagter van 1980 en ’81. O’Ehley is ’n week gelede in ’n ongeluk naby Botriver, ook in die Overberg, dood.

Die diens in ’n stampvol kerk is deur talle familie, vriende en bekendes in rugbykringe bygewoon.

Gysie se seun, Ruan, self ’n veelsydige Springbok in 88 toetse, het spesiaal van Montpellier in Frankryk gekom om sy ouers en Edmund senior se familie by te staan.

Balie Swart (regs), oud-Springbokstut en Wêreldbekerwenner in 1995, praat met Tiaan Augustyn van Bredasdorp ná René O'Ehley se troosdiens. Foto: Pierre Massyn

Rugbysterre soos Balie Swart en Kobus Wiese, Wêreldbeker-wenners in 1995, was teenwoordig.

Die brief wat Kayla (10) vir haar ma, René O’Ehley, op haar begrafnis geskryf het.

In een van die huldeblyke is gesê dat Pienaar soos ’n pa vir die Bokke van 1995 was. Hy was hulpafrigter en het agter die skerms ’n enorme rol gespeel in die Bokke se oorwinning teen die All Blacks in die toets waar hulle die wêreldkroon gewen het.

Die Wêreldbeker-wenspan het geldelik tot O’Ehley se begrafnis en die eetgoed daarna bygedra.

De Wet Ras, Springbok-losskakel wat Pienaar se spanmaat was toe die Vrystaat in 1976 die Curriebeker die eerste keer gewen het, het van Gordonsbaai af gekom om sy ou kameraad by te staan.

’n Bedroefde Ruan het in ’n huldeblyk aan sy suster vertel hulle het saam rugby in hul ouerhuis in Bloemfontein gespeel en dat René hom gelak het dat hy hik.

Hy het ook vertel dat “Sussa” met een abnormale klein voetjie gebore is en dat sy ’n rugoperasie moes ondergaan. Ondanks onbeskryflike pyn was sy “ongelooflik dapper”.

Volgens Ruan was die dag van sy suster se dood die “moeilikste dag” van sy lewe.

’n Emosionele Ruan het ook met verwysing na sy ouers gesê: “Ons was vier, nou is ons drie, maar ons sal saamstaan.”

O’Ehley se vriendinne, Marlene Bezuidenhout en Julie de Wet, het haar sprankelende geaardheid, vriendelikheid en mensliewendheid uitgewys.

Edmund (8) se brief vir sy ma, René O'Ehley, op haar begrafnis.
René OEhley, begrafnisdiens
Drie strydrosse ná die troosdiens vir René O'Ehley, dogter van die oud-Springbok-heelagter, Gysie Pienaar. Die oud-Springbok-losskakel De Wet Ras (middel) saam met Pierre Massyn (links), skrywer van Springbok-rugby vasvra, en Pierre Vlok, oud-Boland-kaptein, wat ook vir Noordwes-Kaap gespeel het.

“Ons is vasbeslote dat ’n krieketwedstryd wat René voor haar dood vir die jong klomp op Bredasdorp gereël het, sal voortgaan. Dit is soos sy dit sou wou gehad het.”

Paul Swart, burgemeester, het ook sy respek kom betoon.

Die broederskap wat in rugby bestaan, is weer onderstreep toe Bismarck du Plessis, Springbokhaker en Ruan se spanmaat by Montpellier, se ondersteuningsrol in die tragedie vermeld is.

Du Plessis en Ruan was ook saam op Grey-kollege (Sekondêr) in Bloemfontein.

Pierre Massyn is ’n vriend van Gysie Pienaar en skrywer van die boek Springbok Rugby-vasvra waarin Pienaar en Ruan figureer.

Meer oor:  Gysie Pienaar  |  René O’Ehley  |  Ruan Pienaar  |  Bredasdorp  |  Begrafnis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.