Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oud-gevangene trap land plat vir goeie doel
Theo en Colleen Fourie vroeër vanjaar by Moedverloor, ’n nedersetting in die Noord-Kaap.Foto: Facebook

’n Oud-gevangene en sy vrou het net minder as 7 000 km sonder enige ondersteuning of begeleiding reg rondom Suid-Afrika met hul fietse afgelê om geld vir minder bevoorregtes in te samel.

Theo Fourie (47), wat 20 jaar tronkstraf vir moord by onder meer die Tswelopele-gevangenis in Kimberley uitgedien het, en sy vrou, Colleen (54), het op 9 April vanjaar hul fietse by Groenpunt in Kaapstad antikloksgewys gedraai. Hulle het eers die “Argus in reverse” gedoen en daarna die res van hul reis om die land aangepak.

Die doel was om geld vir Meals on Wheels in die Noord-Kaap in te samel, ’n organisasie sonder winsbejag.

Dié Gautengers het sover moontlik kuslangs beweeg en onder meer Kaap Agulhas en Kosibaai via die Tuinroete en Port Elizabeth aangedoen, om Swaziland gery, toe na Nelspruit, Mafikeng, Springbok en Alexanderbaai, om uiteindelik weer al die pad Wes-Kaap toe aan te durf.

Dit was vir hulle ’n emosionele oomblik toe hulle Sondag, ná 111 dae en 6 910 km, die eerste tekens van Tafelberg vanaf die R27 sien.

Fourie sê hulle is oorval deur goedhartige mense wat verblyf en kos aangebied het.

Mense wat die Fouries se doel, om geld vir Meals on Wheels Noord-Kaap in te samel, wou ondersteun, kon slegs elektronies geld na die organisasie se rekening maak. Die besonderhede was op ’n kaartjie wat die Fouries uitgedeel het, asook op hul T-hemde. Foto: Facebook

Ian Marsh van Prison Ministries sê diegene wat hul projek wou ondersteun, kon slegs elektronies geld na Meals on Wheels Noord-Kaap se rekening maak. Die besonderhede was op ’n visitekaartjie wat die Fouries uitgedeel het, asook op hul T-hemde. Die Fouries het uiteindelik R20 000 ingesamel.

Fourie was vyf jaar ’n maksimum-gevangene in Diepkloof in Johannesburg. Vandaar is hy na Sonderwater in Pretoria, en in 2010 is hy na die medium-afdeling in Tswelopele verskuif.

“Ek het vir Theo in die tronk ontmoet, en later vir hom en Colleen getrou. Hulle het die week daarna die reis aangepak,” sê Marsh.

Fourie is skuldig bevind aan moord en roof nadat hy ’n man in Johannesburg ontvoer het, sy keel gesny en hom aan die brand gesteek het. Volgens Fourie het hy die moord destyds uit wraak gepleeg.

Sy eerste dag in die tronk was op 18 Oktober 2000 en hy het op 8 Januarie 2018 as ’n vry man uitgestap.

Hy het vanuit die gevangenis studeer en in 2009 ’n BA-graad in berading voltooi. Daarna het hy sewe jaar lank ’n verskeidenheid klasse vir gevangenes aangebied wat op parool vrygelaat is.

’n Program, Victim Offender Dialogue, het dit moontlik gemaak vir die oortreder om in gesprek te tree met die slagoffer en sy of haar naasbestaandes.

Sowat 14 jaar ná sy vonnisoplegging het hy die behoefte gekry om uit te reik na die vrou wie se man hy doodgemaak het.

“Haar foon was af, en ek het op die stempos gesê: Luister, ek is die persoon wat u en die familie ’n verskriklike onreg aangedoen het. As u wil, sal ek u terugskakel en geleentheid gee om my vrae te vra, want in die hof was ek glad nie eerlik nie.”

Hy sê hy kry koue rillings as hy aan die gesprek met die vrou dink.

Die Fouries skep asem naby Nelspruit.Foto: Facebook

“Ek skakel haar weer en sy tel op. Toe sy begin praat, toe dog ek ek het die verkeerde nommer geskakel.”

Hy was oorbluf deur haar openhartigheid.

“Sy sê ‘die oomblik toe jy in die hooggeregshof gestaan het, het ek jou klaar vergewe en vir jou en jou familie begin bid vir die moeilike pad wat julle sou moes stap’.”

Die een vraag wat sy gevra het, is of haar man nog gelewe het toe Fourie hom aan die brand gesteek het.

“Ek kon toe in alle eerlikheid vir haar sê dat hy toe reeds oorlede was. Al dié jare het sy gewroeg oor die lyding wat hy moes ervaar het.”

Hy sê dit is weens dié soort onverdiende genade dat hy nou ’n verskil in die land wil maak.

“Met ons reis het ons besef hoe liefde en ordentlikheid op die perimeter gedy.

“Politici skets ’n donker prentjie, maar ons het gevind dat die werklikheid die teenoorgestelde is.”

Meer oor:  Theo Fourie  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.