Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Oud-Grey Alex Els sterf week nadat hy ontslaan word

Alex Els (19), die brawe “Grey Brak” van Bloemfontein, is Saterdag by die huis oorlede.

Sy afsterwe volg minder as ’n week nadat hy uit die Mediclinic in Bloemfontein ontslaan is, waar hy 42 dae teen die koronavirus geveg het. Vir 40 van hierdie dae was hy in die Covid-19-waakeenheid op ’n ventilator.

Hy was ’n gesonde man toe hy op 6 Junie uit die hospitaal ontslaan is, het sy ma, Hannali Els, toe aan Netwerk24 gesê.

LEES OOK: OUD-GREY ALEX GESOND NA 40 DAE IN WAAKEENHEID

Hannali het nie Saterdag of Sondagoggend op Netwerk24 se oproepe gereageer nie.

Els was op 11 Desember 2019 in ’n motorongeluk toe hy, sy broer en ’n vriend van hul plaas naby Dealesville na Bloemfontein teruggekeer het. Hy het sy regterbeen as gevolg van die ongeluk verloor en was daarna 99 dae in die hospitaal.

Alex Els en sy hond, Bismarck, toe hulle in 2020 ná 79 dae weg van mekaar in die hospitaal kon herenig. Foto: Verskaf

Hy het ná die motorongeluk 15 keer narkose gekry en medici was bekommerd dat hy ernstig siek sou word as hy met die virus besmet word.

Els was ’n held wat ’n dapper stryd geveg het. Toe hy einde Maart 2020 ná sy ongeluk uit die hospitaal ontslaan is, het hy sy matriekjaar aan Grey Kollege voltooi sonder om ’n voldag op die skoolbanke deur te bring.

Hy het die presidentsverkenner-eerbewys, die Voortrekkers se nasionale eerbewys vir kulturele leierskap, ontvang en daarvoor erekleure by Grey Kollege verwerf.

Alex Els, oud-Grey-man, is Saterdag in sy huis oorlede. Foto: Verskaf

Aan die einde van 2020 is Els as “Grey Brak” bekroon, ’n titel wat dié skool jaarliks toeken aan die leerling wat ’n ware toonbeeld is van wat ’n Grey-gentleman moet wees.

Grey Kollege het in ’n verklaring hul medelye oor Els se dood uitgespreek.

“Ons is ontsettend jammer om van sy afsterwe te verneem,” skryf die skool.

“’n Grey-man in murg en been! Die Grey-familie betreur sy afsterwe.”

Els het vroeër aan Netwerk24 gesê hy gaan in 2021 tyd “af vat” om tyd saam met sy gesin op hul plaas deur te bring. Hy het vanuit sy rolstoel saam met sy pa, Lombard, en broer, Rulof, geboer.

Hy het in Maart vanjaar met ’n prostese leer loop en volgens Hannali het hy goed reggekom.

Els was op pad na Doornkloof as deel van ’n Voortrekkersleierskapkursus vir matrieks. Hy moes die kamp in sy eie matriekjaar misloop weens die ongeluk.

Els se familie was nog nie beskikbaar vir kommentaar oor sy dood nie.

Meer oor:  Ventilator  |  Motorfietsongeluk  |  Oud-Grey  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.